Toerusting is van die verlate Anglo Ashanti-hospitaal verwyder, aangesien pogings aangewend word om van die R700 miljoen wat spandeer is om dit op te knap, toe te rus en te beman, teruggekry word.

Volgens ’n verslag wat by gister se vergadering van die Gautengse Wetgewer se Oorsigkomitee oor die Premierskantoor en Wetgewer (OCPOL) ter tafel gelê is, is die volgende toerusting uit die hospitaalgebou “gered”:

  • Toerusting soos verhitting, ventilasie en lugversorging;
  • mediese toerusting, die lykshuis, badkamergeriewe, kombuise, sluise en brandbeskermingstoerusting; asook
  • kragopwekkers.

“Dit was gevaarlik om hierdie toerusting te red uit ’n gebou wat deur Zama Zama-mynwerkers gevandaliseer is op die Wes-Randse myn waar dit geleë is, met bewyse van koeëlgate wat in die mure is,” sê Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid, in ’n verklaring.

Foto: Twitter / @GautengProvince

’n Komitee wat deur die voormalige premier David Makhura saamgestel is, kon geen alternatiewe gebruik vind vir hierdie gebou wat veronderstel was om te help met die behandeling van Covid-19-pasiënte nie.

Sowat R500 miljoen is bestee om die gebou op te knap en 181 ICU-beddens te voorsien, en nog R200 miljoen aan personeel en toerusting vir ’n kort tydperk toe 147 Covid-pasiënte daar behandel is. Dit beloop R4,8 miljoen vir elke pasiënt!

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek hoe hierdie projek uit die aanvanklike R50 miljoen-begroting opgeblaas het, en daar word gehoop dat sowat R240 miljoen op grond van die onregverdige “verryking van kontrakteurs” verhaal kan word.

“Intussen was daar geen politieke aanspreeklikheid vir ’n fundamenteel dom besluit om ICU-beddens te voorsien in ’n fasiliteit met swak sekuriteit wat ver weg van bevolkingsentrums is nie,” meen Bloom.

Die DA het aangedring op die notules van die Gauteng Provinsiale Bevelsraad waar die besluit geneem is om hierdie hospitaal op te gradeer, en toe dit deur die hele Provinsiale Uitvoerende Raad goedgekeur is.

“Ons moet weet wie dit beywer het, en of daar enige verband is met korrupte mense wat daaruit voordeel getrek het terwyl pasiënte in ons hospitale met gebrekkige hulpbronne ly,” meen Bloom.

“Pogings om geld van hierdie fiasko te verhaal is wenslik, maar dit moes in die eerste plek nooit gebeur het nie, en strafregtelike klagte moet voortgesit word wanneer die ondersoek afgehandel is,” sluit Bloom af.

Foto: Twitter / @GautengProvince