Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se doeane-eenheid en Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het beslag gelê op 300kg se saamgeperste stene van suiwer kokaïen by die Durbanse hawe. Die 378 stene het na raming ’n straatwaarde van R1,3 miljard.

Dit volg ná ’n klopjag wat vroeg vanoggend uitgevoer is op ’n vraghouer op ’n skip wat by die hawe aangekom het.

Die 300 kg kokaïen is in een van die vraghouers aan boord van die skip gevind. Dit is opgespoor ná ’n weeklange intelligensie-gedrewe operasie wat deur die SAID gelei is.

“Die SAID Marine-eenheid, Durban Operations, Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Misdaadintelligensie-eenheid en Nasionale Speurdienste het toegeslaan op die vaartuig wat vanaf Suid-Amerika gekom het om verskeie houers te beveilig wat deur die SAID geprofileer is,” het die SAID gesê.

Die houers is ondersoek nadat dit in die Durbanse hawe afgelaai is, wat sinkmetaalprodukte en verskeie swartsakke met 378 saamgeperste stene van suiwer kokaïen aan die lig gebring het.

Die onwettige vrag is aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.

Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, het gesê daar is ’n verbintenis om “die plaag van dwelms wat die land binnekom en die lewens van sy gebruikers, veral die jeug te vernietig, te bestry.”

“Die SAID sal nie hierdie onwettige aktiwiteite duld nie, maar sal eerder voortgaan om sy mandaat na te kom om wettige handel te fasiliteer om ekonomiese ontwikkeling van ons land te bevorder,” het hy bygevoeg.

Foto: SAPD