Die Noordwes Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme het bevestig dat die leeuwyfie wat Woensdag ontsnap het terwyl sy van Leeubosch Wildplaas, deur Setlagole en Stella na ’n ander wildplaas in Tlakgameng vervoer is, opgespoor en doodgeskiet is. 

“Die leeuwyfie is deur ’n ander boer in die Piet Plesis-omgewing in die Dr. Ruth Mompati-distrik ontdek. Die boer het die leeuwyfie vanoggend uitgeken en die eienaar dadelik gebel. Weens die feit dat die leeuwyfie binne ’n woongebied rondbeweeg het, het die plaaseienaar ’n besluit geneem om die leeuwyfie te skiet. 

“Die departement is dankbaar dat geen gemeenskapslede aangeval is nie.”