Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gewaarsku teen die moontlikheid van swaar reënval, wat tot wydverspreide beduidende oorstromings in Limpopo en Mpumalanga kan lei.

Later hierdie week is baie swaar reënval van 200mm tot 400 mm moontlik in Vhembe en Mopani in Limpopo, en in ’n effens mindere mate, Ehlanzeni in Mpumalanga.

“Dit, nadat aansienlike oorstromings oor die Laeveld en platorandgebiede (soos die Krugerwildtuin) die laaste paar weke voorgekom het, kan katastrofies wees en langdurige en ernstige gevolge hê.

“Hoewel daar nie soveel reën oor ander plekke in die noordoostelike dele verwag word nie, word inwoners van Capricorn (Limpopo), asook Umkhanyakude, Zululand en Amajuba (KwaZulu-Natal) versoek om ekstra waaksaam te wees aangesien die situasie kan vererger word deur die onlangse oorstromings in hierdie plekke,” het die SAWD Woensdag gesê.

Benewens swaar reën word sterk winde wat deur die tropiese sikloon “Freddy” veroorsaak word ook vanaf Vrydagaand in die noordoostelike dele verwag, met die gemiddelde spoed van sowat 45 km/h.

“Freddy” het Dinsdag vroegaand langs die oostelike kuslyn van Madagaskar, net noord van Mananjary, geland.

“Die relatief kompakte storm was ’n kategorie 2 tropiese sikloon net voordat dit aan land gekom het, met winde van 150 km/h en rukwinde tot 180 km/h. ‘Freddy’ het aansienlik verswak as gevolg van die ruwe terrein wat dit teëgekom het en is gedurende die aand afgegradeer.

“Die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) aangewese Regional Specialized Meteorological Centre (RSMC) geleë by La Reunion, voorspel dat “Freddy” in ’n wes-suid-westelike rigting sal voortgaan oor die volgende paar dae, en vanaand sy krag herwin soos dit in die Mosambiekkanaal inbeweeg,” het die SAWD gesê.

“Freddy” kan teen Donderdagaand weer byna-tropiese sikloonstatus bereik terwyl hy op pad is na die suide van Mosambiek.

Daar word verwag dat “Freddy” die noordoostelike dele van Suid-Afrika van vroeg Saterdag tot Maandag (25 tot 27 Februarie 2023), veral die Laeveld en platorandgebiede van Limpopo en Mpumalanga sal raak, aangesien die weerstelsel semi-stasionêr langs die noord-oostelike grens vir ’n paar dae sal wees.

Die SAWD sal, in oorleg met Nasionale en Provinsiale Rampbestuurstrukture, voortgaan om ontwikkelings op ’n 24/7-basis te monitor en sal gereelde opdaterings in hierdie verband oor ’n verskeidenheid media- en sosialemediaplatforms uitreik.

“Verder word die publiek aangemoedig om gereeld weervoorspellings op televisie en radio te volg. Opgedateerde inligting in hierdie verband sal gereeld beskikbaar wees by www.weathersa.co.za sowel as via die SA Weerdiens se Twitter-rekening @SAWeatherService.” 

–SAnews.gov.za