VF Plus: “De Ruyter en sy gesin sal nou waarskynlik uit die land moet vlug oor die ontbloting”
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het Donderdag in ’n verklaring gesê dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, moet onthou dat Eskom nie ’n private maatskappy is nie, maar ’n openbare onderneming wat deur belastinggelde in stand gebring is. Bewerings oor dié onderneming hoort in die openbaar.
“André de Ruyter het daarom die volste reg om te praat oor die politieke inmengery en bedrog by Eskom,” meen dr. Groenewald. “Dit is bekend en duidelik dat daar geweldige politieke inmenging by Eskom is en dat die oë selfs gesluit word vir korrupsie soos wat De Ruyter gesê het.”
Volgens hom het ’n sekere minister glo aan hom gesê sommige mense moet soms bietjie skelm wees om voordeel te trek uit misdadigheid om die hoofdoel te bereik.
“Toe De Ruyter gekla het oor korrupsie, is daar glo aan hom gesê die korruptes self wonder hoe lank dit gaan duur voordat hulle ontbloot word. Tog is daar nie opgetree nie.”
De Ruyter het volgens hom ’n punt bereik waar hy gevoel het sy gewete pla hom só erg hieroor dat hy die mense van Suid-Afrika moet vertel wat aangaan in Eskom en wat die ware probleem is.
“Hy en sy gesin sal nou waarskynlik uit die land moet vlug oor die ontbloting. Wat hier gebeur het, is niks anders nie as misdadigheid wat die oorhand oor ’n eerbare amptenaar gekry het,” sê dr. Groenewald.
“Mense wat die waarheid na vore bring en vir belastingbetalers vertel hoe hul belastinggeld gesteel word, moet vlug vir hul lewe.”
’n Bewys hiervan is die moord op Babita Deokaran in Augustus 2021 nadat sy korrupsie by die Gautengse departement van gesondheid blootgelê het.
Die VF Plus sal verdere vrae oor De Ruyter se bewerings vra en die minister sal daarop moet antwoord.
Die VF Plus verwag van die regering om die veiligheid van André de Ruyter en ander fluitjieblasers te beskerm.
“Die verrotting het egter só groot geraak dat ’n versoek om regeringshulp juis jou veiligheid in die gedrang bring aangesien baie oneerlike amptenare deel is van die regering,” meen dr. Groenewald.
“Belastingbetalers moet besef dat die regering kop in een mus is met misdadigers oor korrupsie. In die proses word my en jou belastinggeld gesteel.”