Tottenham-ooreenkoms: “Inligting deur fluitjieblasers onthul vorige WWP-transaksies met die regering” – DA
Inligting wat deur ’n fluitjieblaser aan die DA verskaf is, onthul dat die WWP Group (die maatskappy wat £1,5 miljoen (sowat R31 miljoen) betaal moet word om die Tottenham Hotspur-borgskapooreenkoms van R1 miljard met Suid-Afrikaanse Toerisme [SAT] te fasiliteer) ’n geskiedenis van twyfelagtige handelinge met ander regeringsowerhede het.
“Mediaberigte het ook aangedui dat die SAT-waarnemende finansiële hoof, Johan van der Walt, skakels met die WWP-groep gehad het. Ek het van der Walt uitgevra oor hierdie skakels tydens ’n toerismeportefeuljekomiteevergadering op 7 Februarie 2023. Hy het bevestig dat daar geen sulke skakels was nie, maar dae later het die SAT-raad hom geskors sonder ’n verduideliking aan die publiek. Van der Walt het intussen bedank,” sê Manny de Freitas, DA-woordvoerder oor toerisme, in ’n verklaring.
“Inligting wat aan my verskaf is, het verder onthul dat die WWP-groep in Augustus 2022 ’n aanbieding gelewer het oor die ontwikkeling en implementering van ’n bemarkings-, beleggingsbevorderings- en kommunikasiestrategie van die Nkangala-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga. Die WWP-groep is toe aangestel sonder om aan ’n oop tenderproses deel te neem,” meen de Freitas.
“Hierdie inligting laat vrae ontstaan oor ander regeringsentiteite se verhouding met WWP en enige kontrakte of transaksies wat tot hierdie effek in plek is. Die dringendheid vir die ooreengekome Parlementêre Ondersoek na hierdie aangeleentheid word uiters belangrik,” sê de Freitas verder.