Stiefpa lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van ’n minderjarige
Die Schweizer Reneke-streekhof het Motlhaliemang Alfred Motshwane (36) lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van sy 12-jarige stiefdogter en ’n verdere vyf jaar vir ontvoering.
Die hof het hom verder onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en sy naam sal in die register van seksuele oortreders aangeteken word. Motshwane se skuldigbevinding spruit uit ’n voorval wat in Desember 2017 by die Ipelegeng-township afgespeel het, waar hy die 12-jarige slagoffer en haar 3-jarige suster sonder hul ma se toestemming na die kraal net buite die township geneem het.
Met aankoms het die jonger meisie geslaap en Motshwane het haar trui uitgetrek en haar daarop laat slaap. Hy het daarna die 12-jarige beveel om uit te trek, maar sy het geweier en probeer ontsnap. Motshwane het haar ingehaal en na ’n ander plek in die kraal geskuif en haar verkrag. Ten tyde van die verkragting was die 3-jarige wakker, en sy het haar suster se lyding waargeneem.
Die broer en suster is laat gaan en met hul aankoms het die jonger suster die storie aan die ouma vertel terwyl haar suster histeries gehuil het.
Die 12-jarige kon ook bevestig wat gebeur het. Op daardie stadium het hul ma na hulle gesoek, en met haar terugkeer het die ouma die voorval aan haar oorgedra, en sy het Motshwane gekonfronteer, wat ontken het dat hy die kind ooit verkrag het. Toe hy gevra is om hulle na die hospitaal te vergesel vir die kind om ’n mediese ondersoek te ontvang, het hy dadelik gevlug.
Die saak is by die polisie aangemeld en Motshawane is twee weke later in hegtenis geneem en die hof het hom borgtog geweier.
Ter verswaring van die vonnis het die staatsaanklaer, Mpho Sephapo, die hof versoek om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie. Hy het aangevoer dat die beskuldigde die vertroue wat die slagoffer in hom as vaderfiguur gehad het, misbruik, en dat sy optrede nie oor seks gegaan het nie, maar om sy mag oor ’n weerlose kind te vertoon.
Landdros Patricia Rangwako het met vonnisoplegging met die staat saamgestem en verder opgemerk dat die beskuldigde geen berou getoon het vir sy optrede nie. Sy het die beskuldigde verder veroordeel omdat hy die misdryf voor ’n 3-jarige gepleeg het.
Die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in Noordwes, dr Rachel Makhari, het die SAPD en die vervolging geloof vir ’n samewerking wat tot ’n skuldigbevinding gelei het.