Na vele versoeke van Solidariteit het die vakbond betroubaar van lede binne Eskom verneem dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n spesialiseenheid en nasionale operasionele beheersentrum, wat op misdaad in Eskom gaan fokus, by Megawattpark vestig.

Só het Dirk Hermann, Solidariteit-hoof, in ’n verklaring bevestig.

“Senior polisielede, insluitende generaals is reeds ontplooi. Ons verwag ook dat die weermag betrokke gaan wees en dat die span multidissiplinêr gaan wees.”

Die vakbond het versoek dat die proses moet versnel en dat meer senior kapasiteit beskikbaar gestel moet word. 

“Ons hoop dat daar binnekort nuwe arrestasies gaan wees. Politici wat betrokke is moet nie lekker slaap nie,” meen Hermann.

“Daar is nou geen twyfel meer dat misdaad in en om Eskom sistemies is nie. Ingrypende ondersoeke en vervolgingsvermoë moet geskep word.”

Solidariteit versoek ook dat daar onmiddellik onderhoude met André de Ruyter gevoer word en sy bewerings ondersoek word. 

Solidariteit het self ook strafklagtes teen beweerde plunderaars in Eskom gelê. 

“Ons gaan nie rus voordat hulle in oranje pakke is nie. Ons ondersoek ook verdere klagtes.”

Solidariteit, met 6 000 lede in Eskom, sal nou met die SAPD saamwerk en sal alle ondersteuning gee wat dit kan. 

“Ons sal ook veilige prosesse skep wat ons lede in staat sal stel om fluitjieblasers te wees.”