“R350 is ’n belediging. Dit is selfs minder as die middagete van ’n minister se seun per dag.”
Aktivistegroepe eis ’n basiese inkomstetoelaag van R1 500, nie net R350 nie.
Deur Thamsanqa Mbovane (GroundUp)
Sowat 100 mense van ’n aantal groepe in die burgerlike samelewing het van KwaLanga na die Kariega-stadsaal opgeruk, met leë potte, fluitjies wat geblaas is en protesliedjies wat gesing is, terwyl die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, Woensdagmiddag sy nasionale begrotingsrede vir 2023 gelewer het.
Die betogers het geëis dat die R350-toelaag vir maatskaplike noodhulp (SRD) ’n permanente basiese inkomstetoelaag van R1 500 vir alle werklose mense gemaak word. Godongwana het in sy begrotingsrede aan die nasie gesê dat die R350 SRD-toelaag tot Maart 2024 verleng sal word.
“R350 is ’n belediging. Dit is selfs minder as die middagete van ’n minister se seun per dag. Genoeg is genoeg,” het die optogleier, Mgcini Mejane, gesê.
Mejane het gesê die begroting “moet met ons praat”.
Die optog is gesamentlik georganiseer deur burgerlike bewegings insluitend die Makukhanye Rural Development, Cry of the Xcluded, en plaaswerkers se verteenwoordigers van die Sondagsrivier-munisipaliteit.
Retief Odendaal, burgemeester van Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, het die memorandum ontvang. Hy het gesê die Stad doen sy bes om te verhoed dat arm mense armer word.
“Oor die afgelope drie jaar het ons R900 miljoen verloor wat nie bestee kon word nie. Hierdie Stad is nommer een in die land vir een ding, dit is onreëlmatige uitgawes,” het die burgemeester gesê.