KYK VIDEO | Theuns du Toit wend hom tot hooggeregshof om sy skorsing deur Universiteit Stellenbosch om te keer
In ‘n video wat op die Facebook-groep “Geregtigheid vir Theuns” gedeel is, het Rudi du Toit, Theuns du Toit (20) se pa, verduidelik dat du Toit hom tot die hooggeregshof in Kaapstad sal wend in ‘n poging om sy skorsing deur die Universiteit Stellenbosch ná die omstrede urineringsvoorval om te keer.
Die Facebook-groep, wat gister gestig is, se titel lui: “Die GEREGTIGHEID VIR THEUNS veldtog is ‘n fondsinsamelingsprojek om Theuns te help met regskoste.”
‘n Plasing, wat vanoggend op die Facebook-groep saam met die video gedeel is, lui:
“Ek het in my kort video-boodskap verduidelik dat ons beplan om met ‘n hersieningsaansaak na die hooggeregshof in Kaapstad te gaan om te vra dat die uitsprake van die Universiteit van Stellenbosch se dissiplinêre appélkomitees waarvolgens Theuns aan rassisme skuldig bevind is, ter syde gestel word.
“Ek wil dit net weer beklemtoon dat Theuns die betrokke aand hopeloos te veel gedrink het en in ‘n onbewuste toestand op die klaer se rekenaar geürineer het sonder dat hy geweet het wat hy doen. Die gebeure is iets wat ek geheel en al afkeur en Theuns het werklik berou daaroor. Hy het ook al by ‘n paar geleenthede om verskoning gevra vir sy optrede. Die voorval het absoluut niks met rassisme uit te waai gehad nie omdat Theuns nie ‘n rassis is nie nog nooit een was nie.
“Ons het besluit om die hooggeregshof te nader op advies van ‘n baie ervare senior advokaat wie van mening is dat ons ‘n uitstekende kans op sukses sal hê.
“Dit is vir my duidelik dat die rektor en die leierskap van die universiteit se eerste prioriteit na die urinering-voorval was om die universiteit ten alle koste te beskerm teen ontwrigting en geweld deur die oproerige studente, maar in hulle poging om dit te doen het hulle Theuns egter vir die wolwe gegooi.
“Hierdie studente het al vanaf die dag van die voorval geëis het dat die “rassistiese” Theuns du Toit uit die universiteit geskors moet word. Die universiteit was duidelik daarop uit om die studente te paai.
“As deel van die universiteit se aksieplan het hulle Theuns alreeds vanaf die tweede dag na die voorval in die openbaar as ‘n rassis begin beswadder, voordat hulle nog al die feite van die voorval gehad het of oor enige inligting van Theuns se lewenswyse beskik het.
“Die dag na die voorval het die universiteit ‘n amptelike verklaring uitgereik waarin daar na die voorval verwys is as ‘n “destructive, hurtful and racist incident”. By implikasie is Theuns dus as ‘n rassis beskryf. ‘n Afskrif van die verklaring kan op ons Facebook blad gevind word. ‘n Dag later, op Dinsdag, 17 Mei het die rektor ‘n video-opname op YouTube geplaas waarin hy die voorval eweneens as rassisties beskryf het sonder dat hy oor al die feite beskik het.
“Die klaer het sy eerste verklaring eers op 17 Mei afgelê en die leierskap moes hulle gevolgtrekking dat die voorval rassisties was dus hoofsaaklik op die video-opname gebaseer het. Ironies genoeg het die dissiplinêre komitee later bevind dat Theuns geen rassistiese stelling op die video gemaak het nie. Dit is ook vreemd dat prof. de Villiers wat ‘n gekwalifiseerde mediese dokter is, nie op die video kon sien nie dat Theuns erg besope was, skaars kon praat en nie geweet het wat om hom aangaan nie.
“Deur die loop van die week het ander universiteitsleiers in die rektor se voetspore gevolg met verklarings dat die voorval rassisties was.
“Dele van die media het toe in die voetspore van die universiteit en die rektor gevolg en vir Theuns verder as ‘n rassis beswadder.
“Die president en van sy kabinetsministers het nie op hulle laat wag nie en het ook vir Theuns in die openbaar as ‘n rassis beskryf.
“Dit is duidelik dat die twee dissiplinêre komitees van plan was om Theuns ten alle koste aan rassime skuldig te bevind ongeag die gebrek aan geloofwaardige getuienis teen hom. Dit sou naiëf wees om te verwag dat hulle Theuns onskuldig sou bevind nadat die rektor en die universiteit se leierskap alreeds op rekord was dat hulle die voorval as rassisties beskou het. Boonop was die lede van die dissiplinêre komitee en die meeste van die lede van die dissiplinêre appélkomitee óf werknemers van óf studente aan die universiteit.
“In die proses het die komitees van die universiteit se eie voorskrifte en heelwat ander gevestigde regsreëls eenvoudig verontagsaam. Dit het daartoe gelei dat hulle nie regmatig, redelik en prosedureel billik opgetree het nie soos wat artikel 33 (1) van die Gondwet voorskryf.
“Indien die uitsprake deur die hof ter syde gestel sou word, sal dit beteken dat die rassis-etiket formeel van Theuns se nek verwyder sal wees en dat daar met die proses begin kan word om sy reputasie in ere te herstel. Hy sal dit dan hopelik makliker vind om aan enige universiteit van sy keuse te studeer. Boonop sal dit vir hom makliker wees om ‘n werk te bekom omdat die rassisme-kwessie nie teen hom sal tel nie.
“Dit is baie duur om hooggeregshof toe te gaan en die universiteit het genoeg geld tot sy beskikking om die beste regspan aan te stel, wat beteken dat ons ook ‘n gedugte span sal moet aanstel.
“Dit is onmoontlik om op hierdie vroëe stadium te sê hoeveel die regskoste sal beloop, maar ons verwag dat dit honderde duisende rande sal wees.
“Ek is ‘n salarisman en kan dit nie bekostig om die saak te finansier nie.”
Rudi du Toit het verder die rekeninginligting gedeel as deel van ‘n skarebefondsingsprogram wat help om die kostes van die hofsaak te dek.
Lees die volledige berig deur hier te klik.
By navraag het Tertia Kruger, Direkteur van Kommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch, gesê: “Stellenbosch Universiteit het tydens die verhoor en daarna die institusionele proses verduidelik en het geen verdere kommentaar in hierdie verband nie.”