“Tydens ’n vergadering van die Stellenbosch-munisipaliteit se raad op Dinsdag, 21 Februarie, het raadslede van die Good-party, die Patriotic Alliance (PA) en die Economic Freedom Fighters (EFF) skokkend ten gunste van meer lyding onder beurtkrag in ons gemeenskap gestem,” sê Leon Schreiber, DA verkiesingshoof in Stellenbosch.

Hierdie partye het dit gedoen deur ’n voorstel wat in die 2022/2023-aanpassingsbegroting vervat is, teen te staan. Die begroting het ten doel ​​om nagenoeg R6,2 miljoen aan ’n Nood Munisipale Beurtkrag-toelaag toe te ken.

Hierdie toekenning is deur die Wes-Kaapse regering beskikbaar gestel om bykomende kragopwekkers te voorsien om te verseker dat noodsaaklike dienste soos watervoorsiening vir inwoners beskerm word te midde van die toenemende beurtkragkrisis.

“Al wil Good, die PA en die EFF duidelik hê dat die mense van Stellenbosch nog meer moet ly weens beurtkrag, het die DA-meerderheid in die raad die behoeftes van inwoners eerste gestel deur ten gunste van hierdie toelae te stem,” voeg Schreiber by.

“Die veragtelike gedrag van hierdie klein partye bevestig dat dit van kritieke belang is vir kiesers om die DA te ondersteun as hulle die impak van beurtkrag wil versag en korrupsie uithou,” sê Schreiber. 

“Danksy elke persoon wat vir die DA tydens die 2021-verkiesing gestem het, sal hierdie kragopwekkers nou by verskeie water- en afvalwaterinfrastruktuuraanlegte, reservoirs en sanitasieaanlegte geïnstalleer word om ons gemeenskap se watervoorraad beter teen beurtkrag te beskerm,” sluit Schreiber af.