People’s Post berig dat die vermiste Duitse toeris, Nick Frischke, se ID-boek onder gesteelde eiendom is wat op Dinsdag 21 Februarie tydens ‘n klopjag in Houtbaai gevind is.

In ’n verklaring het die Houtbaai-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op Facebook gesê: “Op Dinsdag, 21 Februarie 2023, om 05:00 het Houtbaai SAPD-lede ’n klopjag uitgevoer nadat ’n gewapende roof plaasgevind het. 

“Die lede het inligting opgevolg en ’n bungalow deursoek en twee verdagtes van 22 jaar en 23 jaar oud in ’n woning in Hangberg, Houtbaai, gevind. Die twee verdagtes sal met ander sake verbind word, insluitend gewapende roof, huisroof, besit van ’n gesteelde vuurwapen, ongelisensieerde ammunisie en die besit van dwelms.”

Alle verdagtes moet vandeesweek op genoemde aanklagte in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Volgens People’s Post is daar Dinsdag inligting deur owerhede gedeel wat gesê het dat daar vermoed word dat Frischke op die Hangberg-roete tussen Houtbaai en Sandybaai vermis geraak het.

Kolonel André Traut, provinsiale polisiewoordvoeder, het aan AfriNUUS bevestig dat sy verdwyning nog ondersoek word.

“In reaksie hierop kan hierdie kantoor bevestig dat die verdwyning van Frischke steeds ondersoek word en dat hy steeds as vermis beskou word. ‘n Geïntegreerde soek-en-reddingsoperasie is aan die gang tussen SAPD en verskeie ander rolspelers en elke moontlike leidrade word ondersoek om Frischke op te spoor.”

LEES OOK: