Die DA het sy opregte dank uitgespreek aan die voormalige Eskom-hoof, André de Ruyter, vir sy drie jaar lange diens as hoof uitvoerende beampte van Eskom.

Tydens sy ampstermyn het de Ruyter skuld by die kragreus verminder, kragopwekkingseenhede onderhou en aangedring op ’n verskuiwing na hernubare energie.

“Hy het dapper steenkooldiefstalsindikate en sabotasie geteiken, wat ’n aanslag op sy lewe tot gevolg gehad het,” sê Ghaleb Cachalia, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings. “Ons loof sy dapperheid, veral in die televisie-onderhoud vandeesweek waarin hy die sluier gelig het oor die grootskaalse korrupsie by Eskom.”

“De Ruyter is ’n ‘ware patriot’ en ons wens hom sukses toe vir die toekoms. Dit is veelseggend dat niemand in die regering dit goed geag het om hom te bedank vir sy pogings nie,” voeg Cachalia by.

Soos hy vertrek, sal nog ’n waarnemende uitvoerende hoof sy rol vervul sonder enige institusionele kennis van die soort wat de Ruyter het of enige behoorlike oorhandiging terwyl die land op fase 6 van beurtkrag is. 

“Soos de Ruyter moedig uitgewys het, bly die ANC-gebonde kriminele mafia binne-in Eskom, onder die beskerming van die ANC-regering en gevolglik het die land se kragstelsel gevaarlik naby aan ’n totale netwerk-ineenstorting gekom,” sê Cachalia.

“Tensy daar dringend opgetree word teen die misdadigers by Eskom en geregtigheid geskied en kragopwekking stabiliseer word – die bedoeling van ons PAIA-aansoek – gaan Suid-Afrika ’n donker en koue winter binne,” sluit Cachalia af.