27-jarige man deur gemeenskapslede aangerand nadat hy glo ’n 10-jarige seun gryp en in ’n begraafplaas verkrag
Die Polisie in Ritavi het ’n 27-jarige verdagte in hegtenis geneem vir die verkragting van ’n 10-jarige seun by die Wisani-dorpie buite Tzaneen op Saterdag, 18 Februarie 2023.
“Die slagoffer het na bewering Saterdag om 16h00 met ander kinders in die straat gespeel toe die verdagte nader gekom het, die kind gegryp en hom in die bosse by die plaaslike begraafplaas ingesleep het waar hy hom na bewering verkrag het. Hy het hom daarna vrygelaat,” het brigadier Motlafela Mojapelo, polisiewoorvoeder in Limpopo, by navraag aan AfriNUUS bevestig.
“Die slagoffer het om hulp geskree en die gemeenskap het gereageer deur die verdagte agterna te sit. Hy is toe in ’n hoek vasgekeer en erg aangerand.”
Die voorval is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld, waarna die verdagte in hegtenis geneem en onder polisiebewaking by die plaaslike hospitaal geplaas is.
Die saak van verkragting is toe geregistreer en na Tzaneen se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS) oorgeplaas vir ondersoek.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo luitenant-generaal, Thembi Hadebe, het die lede geprys vir die inhegtenisneming van hierdie “kindermolesteerder” en gemeenskapslede gemaan om op te hou “om die reg in eie hande te neem.”
Die verdagte sal in die hof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.
AfriNUUS sal die storie verder volg.
LEES OOK: