Solidariteit-lede by Eskom waarsku dat fase 8-beurtkrag naby is en landsburgers moet voorberei
Lede wat deel is van die Solidariteit-vakbond by Eskom sê vir die eerste keer dat fase 8-beurtkrag ’n wesenlike moontlikheid is.
Só het dr. Dirk Hermann, Solidariteit-bestuurshoof, Dinsdag op Facebook bevestig.
“Die kragstelsel is onder ongelooflike druk en indien daar nie vandag ernstige ingrype is nie, kan fase 8-beurtkrag ingestel word. Die moontlikheid van ’n algehele kragineenstorting is vir nou nog ‘weglaatbaar klein’,” meen Hermann.
“Ons lede op senior vlak se terugvoer is dat die grootste noodsaak in Eskom nou stabiliteit is. Die raad en ministers moet ophou om op bedryfsvlak in te meng en behoorlike bestuursdissipline moet teruggebring word.”
Die regering moet ook ophou ramptoestand speel en ingrypende besluite neem.
“Die ramptoestand het die politieke teater geword om te wys dat iets ingrypend besluit is, maar niks gebeur nie. Alles wat nodig is kon al gedoen word en vir niks is ’n ramptoestand nodig nie,” meen Hermann. “Die huidige krisis, is die aandeelhouer se skuld en die twee ministers betrokke staan tussen Eskom en oplossings. Daar sal ver gevorder word as daar onmiddellik van hul ontslae geraak word.”
Deel van die ingrypende besluite is om op ’n dringende basis regulasies af te kondig wat alle struikelblokke uit die weg ruim om op groot skaal privaat krag op te wek.
“Behoorlike vergoedingsmodelle en belastingverligting moet aangekondig word. Die privaatsektor moet in staat gestel word om kommersieël te kan tender vir noodkragopwekking,” voeg Hermann by.
Dit en meer kan binne ’n week gedoen word en het nie ’n ramptoestand nodig nie.
“Waar moontlik moet mense vinniger van die netwerk kom en soveel moontlik self krag opwek. Die grootste daad van protes bly om jou eie ding te doen,” sê Hermann. “Ons wil dit nie sê nie, maar versoek mense om voor te berei vir selfs ’n hoër fase van beurtkrag. Ons vra ook dat kragverbruik, veral tydens piektyd spaarsaamig gebruik word. Dit sê ons met ’n bitter gemoed omdat ons almal al oorstrek is met min krag. “
Solidariteit sê sy lede onderneem om, soos met vorige Eskom-krisisse, die ekstra myl die stap.
“Hulle is egter self onder ongelooflike druk.”