Bennie Swanepoel, DA-raadslid in die Emthanjeni-munisipaliteit, het bevestig dat ’n middeljarige vrou die afgelope naweek by haar huis in Britstown doodgebloei het, weens die onbeskikbaarheid van ’n staatsambulans om te verseker dat sy toegang tot mediese sorg kon kry.

Die 52-jarige vrou se familie het nie R1 500 gehad om die privaat ambulans wat by die plaaslike kliniek geparkeer was om nog ’n pasiënt na De Aar te vervoer, te ontbied nie. 

“Die departement van gesondheid was ook nie bereid om die privaat ambulans vir die pasiënt te borg nie,” meen Swanepoel.

“Die tragedie het weereens die kollig op die voortdurende agteruitgang van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement se mediese nooddienste geplaas.”

Dit is die derde agtereenvolgende week wat Britstown sonder sy eie ambulans gelaat is. 

Onlangs is ’n pasiënt, wat met ’n mes gesteek was, deur ’n plaaslike verpleegster in die straat behandel. Sy het ’n drup vir die pasiënt opgesit terwyl hulle gewag het vir ’n ambulans om uiteindelik op te daag.

“’n Ambulans wat van Vosburg na De Aar ry, help wanneer dit beskikbaar is. Nog ’n geborgde ambulans, wat reeds 500 000 kilometer op die klok het, is ook by die kliniek parkeer, maar is nie van baie nut nie,” meen Swanepoel

“Britstown is op die besige N12 geleë en die N10 gaan ook daardeur. Britstown behoort dus ten alle tye twee of meer toegewyde en operasionele staatsambulanse beskikbaar te hê vir noodgevalle.”

Die DA kla al vir jare oor die swak mediese nooddienste. 

“Die toestand van die ambulansdienste versleg egter. Die DA se provinsiale woordvoerder vir gesondheid, dr Isak Fritz, het hierdie voorval by die departement aangemeld. Hy sal ook parlementêre vrae indien oor die algehele stand van ambulanse in die provinsie, asook die departement se beleid ten opsigte van die gebruik van privaat ambulanse in noodsituasies,” voeg Swanepoel by.

“Álmal se lewe maak saak en die ontydige dood van ‘n pasiënt, hetsy weens ’n gebrek aan ambulanse of ’n tekort van R1500, is eenvoudig onregverdigbaar.”