Gauteng gaan R1,2 miljard aan die provinsie se energiekrisis bestee
Die Gautengse provinsiale regering gaan R1,2 miljard gebruik om die energiekrisis in die provinsie op te los.
“Oor ’n paar weke sal ons ses ontwikkelaars aanstel wat met die bou van ’n 800 megawatt-sonkragplaas in Merafong sal begin. Dit sal gevolg word deur die installering van dak-sonpanele in staatsgeboue, veral hospitale, klinieke en skole,” het Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Maandag in Johannesburg gesê.
Hy het sy staatsrede in die Gautengse provinsiale wetgewer gelewer en gesê die elektrisiteitstekort is gefokus op 4 058 MVA (megavolt-ampère) in 2025.
“As Gauteng het ons gewerk om oplossings vir die energiekrisis te vind. Ons het ’n energiekrisisreaksiespan gevestig wat met die Nasionale Energiekomitee skakel en saam met plaaslike regering en energiekundiges werk,” het Lesufi gesê.
Eskom sukkel die afgelope paar maande om die ligte aan te hou, wat tot verhoogde fases van beurtkrag en ’n verwoestende impak op lewens, lewensbestaan en besighede gelei het.
“Ons sal met Johannesburg Munisipaliteit se City Power sowel as Tshwane se Rooiwal-fasiliteit in gesprek tree met die voorneme om hulle te ondersteun om uit te brei en meer krag op te wek. Ons sal met die eienaars van die Kelvin-kragstasie vergader om vas te stel hoe ons met hulle kan saamwerk om beurtkrag in Gauteng te beperk. Ons sal van volgende week af ’n beroep op voorstelle vir alternatiewe verskaffers van energie adverteer wat kan bydra tot ’n oplossing van die energiekrisis en die herindustrialisering van Gauteng,” het hy gesê.
Die Premier het die verklaring oor ’n nasionale ramptoestand verwelkom, wat deur president Cyril Ramaphosa tydens sy staatsrede (SONA) vroeër vandeesmaand aangekondig is.
Die president het verduidelik dat die verklaring die regering in staat sal stel om “praktiese maatreëls te voorsien” om besighede te help wat deur die gevolge van beurtkrag verwoes is.
Waar tegnies moontlik, sal dit die regering ook in staat stel om noodsaaklike infrastruktuur soos hospitale en watersuiweringsaanlegte van beurtkrag vry te stel.
Dit sal die regering in staat stel om energieprojekte te versnel en regulatoriese vereistes te beperk terwyl streng omgewingsbeskerming sowel as verkrygingsbeginsels en tegniese standaarde gehandhaaf word.