FOTO’S | Woede nadat munisipale werkers op grafte slaap
Die Msunduzi Munisipaliteit in KwaZulu-Natal het foto’s wat op sosiale media versprei word van hul werknemers wat slaap bo-op grafte by die Mountain Rise-begraafplaas veroordeel.
Gemeenskapslede het hul woede op sosiale media gedeel.
“Die Msunduzi Munisipaliteit is bewus gemaak van die ontstellende foto’s waar werknemers gesien word waar hulle slaap en bo-op die grafte sit. Dit is onaanvaarbare gedrag wat veroordeel word met die minagting wat dit verdien,” lui ’n verklaring deur die munisipaliteit.
“Die Munisipaliteit sal nie sulke gedrag goedpraat nie en kan bevestig dat prosesse in plek is vir die betrokke werknemers om aangekla te word vir wangedrag en omdat hulle die munisipaliteit in oneer geplaas het.
“Begraafplase en grafstene is plekke waar mense hulle geliefdes se herinneringe eer. Die stadsbestuurder het beveel dat ’n ondersoek so gou moontlik gedoen moet word.”
Dit is nie duidelik wanneer die foto’s geneem is nie.