By die Toerisme-portefeuljekomitee vandag is dit aan die lig gebring dat die drie lede van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad (SAT) wat diegene vervang het wat onlangs bedank het, onreëlmatig deur die Minister van Toerisme, Lindiwe Sisulu, aangestel is.

“Volgens haar eie erkenning is die drie bedankings aan die begin van Februarie op ’n Woensdag ingedien en sy het die afgetrede raadslede vier dae later op die Saterdag vervang,” sê Manny de Freitas, DA-woordvoerder oor toerisme.

“Die Toerismewet is duidelik in klousule 13(3) wat voorskryf dat die Minister, voor die aanstelling van Raadslede, ’n minimum 30 dae kennisgewing in die Staatskoerant en in twee nasionale koerante moet publiseer wat nominasies uitnodig, en dieselfde moet gedoen word na Raadslede aangestel is,” sê de Freitas.

Dit beteken dat die voorskrifte en prosesse wat in die Wet bepaal word nie deur die Minister gevolg is nie. Dit beteken moontlik dat die drie nuut aangestelde lede moontlik onwettig aangestel is en dat enige besluite wat deur die Raad sedert die bedankings geneem is almal nietig verklaar kan word,” voeg de Freitas by.

Drie SAT-raadslede het bedank nadat die voorgestelde Tottenham Hotspur-borgskapooreenkoms bekend gemaak is. Die drie lede wat bedank het, was Enver Duminy, Ravi Nadasen en Rosemary Anderson.

Die Minister beweer dat sy dringend die 3 raadslede moes vervang om te verseker dat daar ’n kworum is sodat die Tottenham Hotspur aangeleentheid bespreek kan word. Die Minister het versuim om te verduidelik hoekom dit in die eerste plek dringend was, veral in ag genome dat die Tottenham-ooreenkoms slegs ’n voorstel was sonder ’n sperdatum daaraan.

De Freitas het versoek dat die Portefeuljekomitee voortgaan met die indiening van ’n verslag in die Nasionale Vergadering en dat ’n ondersoek van stapel gestuur word soos ooreengekom tydens vorige Portefeuljekomiteevergaderings.