Universiteit Stellenbosch verduidelik oor die taalkwessie
Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch (US), het bevestig dat die universiteit kennis neem van die beweringe oor taalgebruik op sy kampusse en tree direk met die toepaslike partye in verbinding.
Dit volg nadat ’n bom laasweek losgebars het nadat studente glo verplig is om Engels te praat, selfs as sommige leerders Afrikaans is.
“Die US moet ook daarop wys dat Isa Carstens ’n privaat geakkrediteerde koshuis is en nie deur die US bestuur word nie,” voeg Viljoen by.
“Die Universiteit het met sy Taalbeleid (2021) homself opnuut verbind tot meertaligheid as ’n manier om inklusiwiteit te bevorder. Dit geld ook die US se studentegemeenskappe waar taal so gebruik word dat waar dit redelikerwys doenlik is, almal ingesluit word en kan deelneem aan besprekings,” meen Viljoen.
Sedert die meer as 5 000 nuwelinge vroeër vandeesmaand op kampus verwelkom is, heers daar ʼn oorweldigend positiewe gees onder studente.
“Dit is egter vanselfsprekend dat wanneer ʼn groot groep jongmense vir die eerste keer saamkom en deel word van ʼn nuwe entiteit, ‘n gemeenskaplike grondslag om mekaar onderling te verstaan, noodsaaklik is,” meen Viljoen.
Die studentesamestelling in koshuise en pendelstudentegemeenskappe verander elke jaar.
“Begeleiding, opleiding oor meertaligheid, leiding oor hoe om meertaligheid binne gemeenskappe toe te pas en sensitisering van studente – en veral studenteleiers – is dus ‘n deurlopende proses. In die oorgrote meerderheid gevalle word misverstande weens taalverskille deur openhartige gesprekke tussen studente in ʼn goeie gees opgelos,” meen Viljoen.
“Studente word aangemoedig om bekommernisse met huiskomiteelede en/of koshuishoofde en pendelstudentekoördineerders op te neem indien hulle voel dat hulle kommer oor taalgebruik in hierdie omgewings nie behoorlik aangespreek is nie. Wanneer ʼn situasie nie spontaan ontlont kan word nie, beskik die Universiteit oor verskeie hulpbronne en kanale om seker te maak dat klagtes aangehoor word. Indien daar sprake is van interpersoonlike konflik, intimidasie of afknouery, word dit so gou moontlik op ʼn regverdige, onpartydige en professionele manier beredder.
“Die meertaligheid wat die US nastreef word allermins sosiaal afgedwing en gebeur in die meeste gevalle op ʼn organiese manier soos studente mekaar beter leer ken en hul taalrepertoire uitbrei. Die US se Taalbeleid is dan ook toegespits op die bevordering van inklusiwiteit en ʼn waardering vir wedersydse kultuurgoedere. Dit skep geleentheid vir studente van uiteenlopende agtergronde om na mekaar uit te reik en bande te smee oor kultuur- en taalgrense.
“Die vertrekpunt is dat jy in alle ruimtes jou moedertaal mag praat. Dit staan sentraal in die strewe na inklusiewe gemeenskapsvorming. Indien jy egter in jou moedertaal of taal van jou keuse praat en ander deelnemers aan ‘n gesprek ook ingesluit wil word terwyl hulle nie die taal wat jy op die spesifieke oomblik gebruik, verstaan nie, mag jy versoek word om die boodskap aan daardie deelnemers oor te dra, hetsy deur vertaling, parafrasering of ‘n gemeenskaplike taal.
“Die oordra van inligting aan almal is soveel te meer relevant aan die begin van die jaar met duisende nuwe studente op kampus. Die US beskou nie versoeke van studente of studenteleiers om by ‘n gesprek ingesluit te word as ‘n verbod of ‘n opdrag wat betref ‘n sekere taal nie. Kommunikasie as deel van gemeenskapsvorming gaan oor meer as die gebruik van taal – dit gaan ook oor die manier hoe ander ingesluit word.”