Sedert die moord op Brendin Horner, wat reeds op 1 Oktober 2020 plaasgevind het, is sy moordenaars steeds op vrye voet en het die familie nog geen berusting dat geregtigheid geskied het vir hierdie onsinnige moord nie.

Dít luidens ‘n mediaverklaring deur die Brendin Horner-stigting.

Dit volg as volg:

“Dit is nou, na meer as twee jaar, duidelik dat die SAPD nie in staat is om die moordenaars op te spoor en voor die hof te bring ten spyte van oproepe uit die gemeenskap en vele organisasies dat hier geregtigheid moet geskied nie.

“Die Brendin Horner Stigting wat opgerig is met die doel om die familie van Brendin Horner by te staan, plaasmoorde te bekamp en slagoffers van plaasmoorde by te staan ,is nou genoop om ‘n privaat ondersoek na hierdie aangeleentheid van stapel te stuur.

“Die ondersoekspan wat bestaan uit kundiges op verskeie terreine het vandag van die Brendin Horner Stigting opdrag ontvang om met sy werksaamhede te begin. Daar sal uit die aard van die saak met alle rolspelers saamgewerk word om die moordenaars op te spoor en voor die hof te bring.

“Reeds tydens die onthulling van die Brendin Horner monument op 1 Oktober 2022 te Baberspan is die boodskap duidelik uitgestuur dat hierdie onsinnige moord nie ter ruste gelaat gaan word totdat geregtigheid seevier nie.”

Deur: SJ Du Venage, namens die Brendin Horner-stigting.