Lede van SAPD se Nasionale Intervensie-eenheid (NIU) wat in Barberton aan diens was, het ’n 22-jarige man in hegtenis geneem vir die aanval op polisiebeamptes vanoggend om 07h15.

Die polisie was besig met hul roetine-patrollies toe hulle op twee mans afgekom het wat ’n sak in hul besit gehad het. Terwyl die polisie die twee mans voorgekeer het om ondersoek in te stel na wat in hul sak was, het hulle verkies om nie gehoor te gee nie, maar hulle het begin hardloop. 

Die lede het die mans agternagesit toe een van die twee mans ’n handwapen uitgeruk en op die polisie begin skiet het. 

Die polisie het gereageer deur terug te skiet en die verdagte is gewond, en gelukkig het geen SAPD-lede beserings opgedoen nie. 

Die verdagte kon nie ’n vuurwapenlisensie wys nie en is daarom in hegtenis geneem vir poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Die polisie het ’n ambulans ontbied wat hom hospitaal toe geneem het vir behandeling waar hy onder polisiebewaking is. 

Verdere ondersoek sal gedoen word om vas te stel of die vuurwapen nie in ander vorige kriminele aktiwiteite gebruik is nie.

Die manlike verdagte sal na verwagting binnekort in die Barberton-landdroshof verskyn.