Ermelo SAPD ondersoek twee sake van moord, twee sake van poging tot moord, huisroof en diefstal van ’n motorvoertuig. Dit volg nadat Ermelo SAPD op 18 Februarie om 12:40 ’n klag van huisroof in Ermelo ontvang het. 

Polisielede het met hul aankoms op twee lyke afgekom, die lyk van ’n 59-jarige man (Robert James) en sy 50-jarige vrou (Bangon Roopsai). Sy vrou is ‘n Twaiwannese burger.

’n 25-jarige man (seun van die oorlede man) en sy 20-jarige meisie is op die toneel beseer gevind.

Daar word vermoed dat al die slagoffers met ’n byl aangeval is.

Die verdagte het van die toneel gevlug in ’n wit Volkswagen Polo wat aan een van die slagoffers behoort. 

Die verdagte het in die rigting van Amsterdam, wat buite Ermelo is, gevlug. 

Ongeveer 10 km buite Ermelo was hy met ’n ander voertuig in ’n ongeluk betrokke. Lede van die Ermelo-polisie, wat op die uitkyk was vir die gesteelde voertuig, het die verdagte op die ongelukstoneel in hegtenis geneem.

Die verdagte is ’n 29-jarige man wat vandeesweek in die hof sal verskyn.

  • Bron: Verklaring deur Brigadier Selvy Mohlala