Kragkrisis: Fase 6-beurtkrag geld tot Woensdag, waarna dit afgeskaal sal word
André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het Maandagmiddag gedurende ‘n regstreekse uitsending bevestig dat fase 6-beurtkrag sal voortduur.
Eskom beplan dat fase 6-beurtkrag tot Woensdagaand sal voortduur, waarna fase 4-beurtkrag ingestel sal word. Daarna verwag die kragreus dat beurtkrag Vrydag na fase 3-beurtkrag afgeskaal sal word en oor die naweek sal voortduur.
Sal hoër fases van beurtkrag ingestel word?
Hoër fases van beurtkrag hang af van die druk op die kragnetwerk. Beurtkrag sal ingestel word op die gepaste fase om ‘n totale ineenstorting te voorkom. Indien die kragnetwerk vou, kan dit tussen 10 en 14 dae neem om die krag vir die land aan te skakel.
Eskom het verder bevestig dat ‘n beurtkragrooster vir fase 9-beurtkrag en hoër opgestel word.