Meta, die moedermaatskappy van Instagram en Facebook, het pas bevestig dat Instagram- en Facebook-gebruikers nou vir ’n amptelike verifikasie kan betaal.

Meta Verified sal nou tusen $11,99 (R215) en $14,99 (R270) per maand kos. Dit sal hierdie week in Australië en Nieu-Seeland beskikbaar wees.

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Meta, het aan die BBC-nuusdiens gesê dat die stap sekuriteit en egtheid op die sosiale media-platforms sal verbeter.

Die stap volg nadat Elon Musk, Twitterbaas, die premium Twitter Blue-intekening in November 2022 ingestel het.

Meta se betaalde intekeningdiens is nog nie vir besighede beskikbaar nie, maar enige individu kan vir verifikasie betaal.

Kentekens – of “blou regmerkies” – is oorspronklik as verifikasienutsmiddels vir hoëprofielrekeninge gebruik om hul egtheid aan te dui.