Die landdroshof in Pretoria-Noord het twee pleegouers, wat onderskeidelik 70 jaar en 69 jaar oud is, 12 lewenslange en 95 jaar tronkstraf gevonnis. 

Twee ander familielede, wat ’n egpaar is, en 43 jaar en 49 jaar oud is, is tot 4 lewenslange vonnisse en 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die ander twee familielede wat ook ’n egpaar is, en onderskeidelik 49 jaar en 39 jaar oud is, is vyf jaar ten volle opgeskorte vonnisse en 3 jaar korrektiewe toesig opgelê.  

Die landdros het gelas dat die vonnis gelyklopend uitgedien moet word, dat hul name op die nasionale register vir seksuele oortreders bygevoeg word en dat hulle onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit.

Dit volg nadat hulle gesamentlik skuldig bevind is aan 20 aanklagte van seksuele misdrywe teen 3 minderjarige kinders, tussen die ouderdomme van 4 jaar en 9 jaar, van 2005 tot 2010, toe hulle gearresteer is. 

Van die aanklagte waaraan hulle skuldig bevind is, was verkragting, onsedelike aanranding, gedwonge verkragting, gedwonge seksuele aanranding, getuie van seksuele dade, seksuele versorging (grooming) asook kindermishandeling en verwaarlosing.

Dit is ontdek nadat die 6-jarige pleegkind vir skoolgereedheidsbeoordeling geneem is waar sy aan die opvoedkundige sielkundige bekend gemaak het dat sy seksueel deur haar pleegouers aangerand word. 

Na ontvangs van hierdie inligting het die sielkundige die saak by die polisie aangemeld. Tydens die ondersoek is bevind dat die ses beskuldigdes beide hul 2 pleegkinders en hul 4 biologiese kinders seksueel aanrand.

Die ses is in Desember 2010 by hul woning op Hammanskraal en Bultfontein in hegtenis geneem. Die kinders is toe na ’n plek van veiligheid geneem.

In die hof het hulle almal onskuldig gepleit op die aanklagte wat teen hulle verkies is en ontken dat hulle die kinders ooit seksueel aangerand het.  

Die staat kon egter bewys dat die ses ouers die kinders wel seksueel aangerand het. 

In hul slagofferimpaksverklaring het die kinders aan die hof gesê dat wat met hulle gebeur het, hulle geraak het en steeds raak, aangesien hulle dit nou moeilik vind om mense te vertrou en verhoudings te handhaaf.  

Hulle het verder aan die hof dat hulle steeds ly aan die trauma wat deur die ses ouers veroorsaak is.  

Ter verswaring van vonnis het die aanklaers wat die saak hanteer het, adv. Cornelia Harmzen en Marie Jonker, aan die hof gesê dat die ses ouers geen berou getoon het vir hul optrede nie.  

Hulle het hul eie kinders aan die ondersoek van die hof onderwerp waar hulle met behulp van die tussengangerdienste moes getuig en ook hul trauma moes herleef. Boonop was die beskuldigdes ouers vir die kinders, en hulle was in ’n vertrouensposisie. Hulle het daardie vertroue verraai en versuim om die kinders te beskerm.

Landdros Pieter Nel het in sy vonnis gesê die ses het oor ’n lang tydperk ernstige misdrywe teen hul kinders gepleeg. Sulke misdade sal sekerlik ’n groot impak op die slagoffers laat en daarom was die vonnis wat opgelê is, gepas.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die vonnis in hierdie grusame saak waarby minderjarige kinders betrokke is, veroordeel, in die hoop dat dit ’n sterk boodskap sal uitstuur dat sulke misdade nie geduld sal word nie.  

Die identiteite van die oortreders word weerhou om die kinders se identiteite te beskerm.

  • Verklaring deur Lumka Mahanjana, die nasionale vervolvingsgesag se woordvoerder in Gauteng.