George-munisipaliteit lei stryd teen beurtkrag
Die DA het die George-munisipaliteit geluk toegewens met die feit dat hy die eerste munisipaliteit in Suid-Afrika, buite die metro, is wat die aanlyn aansoekplatform vir kleinskaalse ingebedde elektrisiteitsopwekking (SSEG) loods.
“Die SSEG-loodsprojek moderniseer nie net die SSEG-aansoekproses nie, maar ook, nog belangriker, die goedkeuringsproses om elektrisiteit in residensiële, kommersiële of industriële gebiede op te wek. Die loodsprojek is ook ’n noemenswaardige stap om munisipaliteite aan te moedig om onafhanklik van Eskom te word en sodoende beurtkrag te bekamp,” sê dr. Mimmy Gondwe, DA-kiesafdelingshoof vir George.
Tans laat munisipaliteite regoor die land slegs die handgeskrewe indiening van die SSEG-aansoek toe, wat in die meeste gevalle vertragings met die goedkeuringsproses tot gevolg het. As sodanig sal hierdie aanlyn-opsie minder rompslomp en ’n vinniger omkeertyd tot gevolg hê.
Vandag het Suid-Afrikaners weer wakker geword met die nuus dat Eskom vir ’n onbepaalde tyd fase 6-beurtkrag gaan instel, weens die onklaarraking van verskeie van die land se kragstasies.
“Verhoogde beurtkragfases word geleidelik die norm in ons land en dit het baie duidelik geword dat Eskom en die ANC-regering nie in staat is om die energiekrisis aan te spreek en op te los,” meen dr. Gondwe. “Tydens sy onlangse staatsrede het President Ramaphosa weereens honderde leë beloftes gemaak oor die oplossing van die energiekrisis wat ons nog moet sien ingestel word.”
“Die pogings van plaaslike regerings, soos die George-munisipaliteit, is egter baie bemoedigend en ons wens George-munisipaliteit en sy tegniese span geluk met hul pogings.”