Eskom sal Sondagaand vanaf 20:00 beurtkrag na fase 6 verhoog, luidens die jongste verklaring deur die kragvoorsiener.

Dit was nadat Eskom Saterdag oor die moontlikheid gewaarsku het.

In ’n verklaring het die kragvoorsiener gesê: “Fase 4-beurtkrag sal voortgaan om ingestel te word tot verdere kennisgewing, terwyl fase 6-beurtkrag ingestel sal word om 20:00 Sondagaand tot 05:00 op Maandagoggend.”

Eskom se behoefte om fase 6-beurtkrag te implementeer is genoodsaak deur die groot aantal onklaarrakings.

“Daar is ’n moontlikheid van verdere veranderinge op die fases van beurtkrag op kort kennisgewing. ’n Verdere opdatering sal gepubliseer word sodra enige beduidende veranderinge plaasvind,” lui die verklaring.

Oor die afgelope 24 uur het ’n opwekkingseenheid elk by die Camden-, Duvha- en Lethabo-kragstasies onklaar geraak en is vanlyn geneem vir herstelwerk.

“Die terugkeer tot diens van twee opwekkingseenhede by Drakensberg en ’n eenheid elk by Kendal- en Tutuka-kragstasies word vertraag,” lui die verklaring.

Eskom het gesê twee opwekkingseenhede by die Lethabo-kragstasie is gedurende die tydperk weer in diens geneem.

“Opwekkingsvermoë van 19 385 MW is tans aflyn, terwyl 3 566 MW se opwekkingskapasiteit buite werking is vir beplande instandhouding,” lui die verklaring. 

– SAnews.gov.za