Eskom wink dat beurtkrag bó fase 6 ingestel kan word
Fase 6-beurtkrag is dalk nie genoeg om Suid-Afrika die week deur beurtkrag te bring nie.
Eskom het Sondagaand voor middernag bevestig dat fase 6-beurtkrag onbepaald sal voortduur, nadat agt kragopwekkingseenhede onklaar geraak het.
Maar, Eskom het ook gewaarsku dat fase 6-beurtkrag dalk nie genoeg sal wees om aan die vraag van sy kliënte te voldoen nie.
Dit skets ’n donker prentjie vir Suid-Afrikaanse huishoudings en besighede wat staatmaak op die kragreus vir hul besighede om te funksioneer.
Eskom het nog nooit beurtkrag bó fase 6 aangekondig nie, maar dit bly ‘n weklikheid en die skedule is reeds op platforms soos ESP (Eskom se Push) beskikbaar.
“Gegewe die hoë aantal kragopwekkingseenhede wat onklaar is, is daar ’n moontlikheid dat verdere veranderinge aan beurtkragfases ingestel kan word,” waarsku Eskom in die verklaring.
Fase 7-beurtkrag beteken tot 12 ure per dag sonder krag, terwyl fase 8-beurtkrag tot 14 ure per dag sonder krag sal beteken.