‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer
DEUR CONETTE LE ROUX (LiG)
“Ek het hom saggies hoor lees: ‘Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.’
Ek wou my oë rol, want in daardie stadium was ek só kwaad. Kwaad vir die wêreld. Kwaad vir die Here. Hoe kon Hy toelaat dat ek hier beland!”
Daardie dag is in Jaaco Rademeyer se geheue ingebrand – 2 Februarie 2009. Hy het pas by die Kenilworth-rehabilitasiesentrum aangemeld. Een van sy nuwe kamermaats het saggies uit die Bybel gelees. Daardie kamer sou die volgende klompie weke sy tuiste wees.
Dit is 14 (sober) jare later toe dié 40-jarige entrepreneur en eiendomsagentskap-eienaar op ’n snikhete dag in Stellenbosch by Lanzerac Deli instap. Hy vertel hy is genadiglik deel van die 1% wat, volgens die beskikbare statistiek, ná die eerste rehabilitasie-sessie sober gebly het.