Vanmiddag is een persoon dood toe sy/haar ligte motorvoertuig in ’n brug op die R42 Barrage-pad buite Vereeniging vasgery het.

ER24 en ander nooddienste het om 12:27 op die toneel aangekom om ’n ligte motorvoertuig te vind wat teen ’n betonbrug vlam gevat het.

Die provinsiale brandweerdienste het die brand begin bestry, terwyl die plaaslike owerhede verkeer begin herlei het.

Nadat die brand geblus is, het medici die bestuurder se liggaam in die voertuig vasgekeer gevind. Ongelukkig het die bestuurder reeds aan sy/haar beserings beswyk. Niks meer kon gedoen word nie, en hy/sy is dood verklaar.

Die presiese besonderhede rondom hierdie voorval is onbekend, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke.

Die geslag van die oorledene kon nie bevestig word nie.