’n 26-jarige man is dood nadat hy deur ’n onwettige kragkabel ongeveer 50 meter van sy huis in Mashimane, KwaZulu-Natal, geskok is.

Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) het Sondag om 10:14 ’n oproep om bystand ontvang. By aankoms het reaksiebeamptes die man ontdek waar hy op ’n onwettige kragverbinding/kabel gelê het. 

Hy het geen tekens van lewe getoon nie en is dood verklaar. 

Volgens sy ma het die oorledene gisteraand by ’n vriend in die omgewing gekuier en nie teruggekeer nie. Inwoners het sy lyk vanoggend ontdek.

Hy het brandwonde aan dele van sy liggaam opgedoen wat met die elektrisiteitsaansluiting in aanraking gekom het.