Gesamentlike ingrypings tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Kwadwesi, Gqeberha se K9-eenheid en sy snelwegeenheid het gelei tot die herwinning van ’n gekaapte trok en die arrestasie van een verdagte wat in besit was van die vermoedelik gesteelde eiendom.

Daar word beweer dat ’n wit Isuzu-trok Donderdag om 09:45 op die N2 naby Coega van die pad gedwing is deur verdagtes wat die bestuurder met ’n vuurwapen gedreig het. Die verdagtes het met die trok weggery en die bestuurder en sy passasier is in Mkhwenkwestraat, Kwadwesi, afgelaai.

’n Saak is by SAPD Kwadwesi geopen.

Gqeberha K9-lede was besig met patrollies in die omgewing van Ezinyoka, toe hulle verdagte gedrag in die gebied opgemerk het. 

Lede van die snelwegeenheid, SAPD Kwadesi en Openbare Orde Polisiëring het hulp verleen toe die gemeenskap die teenwoordigheid van die vermoedelik gesteelde polisievoertuig opgemerk het.

Die verdages het die bokse wat hulle uit die voertuig gedra het gelos en weggehardloop. Terwyl die lede die omliggende huise deursoek het vir vermoedelik gesteelde eiendom wat uit die gekaapte voertuig gesteel is, het hulle een verdagte (28) gearresteer wat verskeie pare splinternuwe skoene gehad het wat in die plakkershut versteek was. Die leë bokse is agter in die plakkershut gevind.

Die gekaapte trok is geskut vir verdere ondersoek. Die polisie het ook skoene, linne, sigarette en drank gevind wat ook uit die trok geneem is.

Foto: SAPD / Verskaf

Die verdagte is aangehou op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die ondersoek duur voort en die gearresteerde verdagte sal Maandag, 20 Februarie 2023, in die New Brighton-landdroshof verskyn.