Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se DA-burgemeester, het op Twitter gesê dat Russiese oorlogskip moet ‘voetsek’ van die Kaapse hawe. Dit volg nadat die Russiese oorlogskip vandeesweek by Kaapstad aangekom het. Hy het op Twitter bevestig dat die oorlogskip moet “voetsek” omdat dit nie welkom is in die Moederstad nie.

Foto: @RusConsCapetown / Twitter

Die VSA het ook die 10-dae vlootoefeninge gekritiseer, wat oor die eerste herdenking van die oorlog in die Oekraïne sal voortduur.

BBC berig dat Suid-Afrika ’n gesamentlike militêre oefening hou met Rusland en China wat volgens opposisiefigure neerkom op ’n onderskrywing van Rusland se inval in die Oekraïne.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sê 350 lede van sy gewapende magte sal deelneem aan die vlootoefeninge.

Rusland het aangekondig dat hy sy Admiral Gorshkov-oorlogskip, wat Zircon-hipersoniese missiele dra, sal stuur. Hierdie missiele vlieg teen nege keer die spoed van klank en het ’n reikafstand van 1 000 km.

Moskou “sal probeer wys dat ondanks sy terugslae in die oorlog in die Oekraïne, sy gewapende magte steeds baie magtig is”, sê Denys Reva van Suid-Afrika se Instituut vir Sekerheidstudies.

’n Woordvoerder van die Withuis het in Januarie gesê: “Die Verenigde State is bekommer oor enige land … wat saam met Rusland oefen terwyl Rusland ’n wrede oorlog teen die Oekraïne voer.”

Suid-Afrika het voorheen uit ’n VN-stemming gebly wat die inval veroordeel. Dit het ook geweier om by die VSA en Europa aan te sluit om sanksies teen Rusland in te stel.

Lede van die Ukranian Organisastion of South Africa het ook bevestig dat dit vandag by die Umhlanga-promenade in Durban sal betoog.

Die vlootoefeninge sal aan die Natalse Noordkus voortduur.