’n Kêrel (53), sy meisie (51) en haar seun (32) is glo by Senotlelo in Vaalbank met klippe doodgegooi nadat die lyk van ’n 8-jarige meisie vandag in die vroeë oggendure (om 02:00) in ’n puttoilet gevind is. 

Luidens die polisieverslag het Nomsa Sambo (8) vermis geraak en is as sodanig deur haar familie as vermis by die Vaalbank SAPD op Sondag, 12 Februarie 2023, aangemeld. 

Daarna het inligting na vore gekom oor ’n man wat na bewering gesien is waar hy Nomsa na sy huis dra. Die polisie het toe op die inligting gereageer en op Maandag, 13 Februarie 2023, het hulle hom ondervra. ’n Ontvoeringsaak is in dié verband geopen. Die man het egter al die bewerings ontken. Daar was teen daardie tyd onvoldoende bewyse om hom aan te kla en is hy later vrygelaat.

Vanoggend (18 Februarie 2023) het inligting opgeduik dat die vermiste kind binne ’n puttoilet by die verdagte se woning was. Polisie van Vaalbank sowel as lede van soek-en-reddingspan het na die toneel gehaas en met hul aankoms het hulle die lewelose liggame van drie individue, twee mans en een vrou, in die straat gevind. 

Die oorledenes het glo ernstige beserings opgedoen wat daarop dui dat hulle met klippe bestook kon word en die mediese personeel het ook na die toneel gekom waar hulle dood verklaar is. 

Die polisie het ook ontdek dat twee voertuie, ’n Ford Bantam sowel as ’n VW Jetta 4, tot as verbrand is. Die kind is uiteindelik uit die puttoilet gehaal en sy is ongelukkig ook dood verklaar.

Die drie is sedertdien as Zele Papo Machika (53), sy vriendin, Pauline Maubane (51), asook hul seun, Thabo Maubane (32), geïdentifiseer. Die polisie het later verneem dat die afgebrande voertuie aan Thabo Maubane behoort het.

‘n Saak van ontvoering is intussen na moord verander en drie aanklagte van moord word ondersoek ten opsigte van die drie volwassenes wat vermoor is. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek dié gru-voorval.

’n Span ondersoekers onder leiding van die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, is saamgestel om ondersoek in te stel. Intussen het die generaal hierdie voorval ten sterkste veroordeel.