Fase 6-beurtkrag is terug, maar waar is die minister van elektrisiteit?
Suid-Afrikaners het Saterdag hul woede uitgespreek nadat Eskom fase 6-beurtkrag aangekondig het. Dit kom ten spyte van President Cyril Ramaphosa wat met sy staatsrede besluit het om ’n nasionale ramptoestand in te stel om die beurtkragkrisis te hanteer en sy belofte om ’n minister van elektrisiteit aan te stel.
Maar die vraag is nou: Wie en waar is die minister van elektrisiteit?
Ramaphosa meen ’n nuwe minister in die presidensie wat alle vlakke van die kragkrisis sal hanteer is die oplossing om die verlammende kragonderbrekings te probeer beëindig, en hy het kritiek verwerp dat die rol verwarring in die regering sou veroorsaak.
AfriNUUS het vroeër berig dat André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, “onder geen omstandighede” sal terugkeer in sy rol as hoof van die kragvoorsiener nie. Die rol, wat wyd adverteer is, is nog nie gevul nie.
De Ruyter pak sy tassies op 31 Maart 2023. Jan Oberholzer, De Ruyter se nommer twee en die bedryfshoof, tree ook in April 2023 af.
Oberholzer was meer as 30 jaar in diens by die kragvoorsiener, maar sy pos sal in die toekoms nie vervul word nie.
Die kragkrisis het Ramaphosa genoop om ’n “nasionale ramptoestand” te verklaar en te sê hy sal ’n nuwe minister van elektrisiteit aanstel. Dit is egter nog nie bekend wie die minister van elektrisiteit sal wees nie.
’n Minister van elektrisiteit sal volgens die DA ’n bykomende R37 miljoen per jaar vir belastingbetalers kos.
Outa, die DA en Solidariteit sal die onlangse aankondiging van ʼn nasionale ramptoestand om die energiekrisis te takel, in die hof uitdaag.
AfriNUUS het vroeër berig dat fase 6-beurtkrag vanaf 20:00 vanaand tot Sondagoggend om 05:00 ingestel sal word. Daarna sal fase 4-beurtkrag ingestel word, met die moontlikheid dat fase 6-beurtkrag môreaand ook ingestel sal word.
LEES OOK: