Sowat 60 mense in Diepsloot is dakloos gelaat ná kitsvloede Dinsdagaand.

Deur Chris Gilili (GroundUp)

Swaar reën vandeesweek het sowat 60 mense in Diepsloot dakloos gelaat, met die meeste van hul besittings wat weggespoel of erg beskadig is.

GroundUp het Woensdag Uitbreiding 7 besoek waar gesien is hoe mense probeer om wat hulle kon uit die puin te red. Sommige was besig om nat klere op te hang, modder te verwyder en matrasse en beddens uit te droog.

Betty Phiri se huis is heeltemal verwoes deur kitsvloede, wat haar en haar twee kinders dakloos gelaat het. “Die reën het om 23:00 hard begin val en binne minute was water oral. Dit het ons weggedruk maar ons is deur die heining beskerm. Ek sou met my kinders weggespoel het,” het sy gesê.

“Ons het alles verloor. Ons ID’s, selfone, geld, kos en klere. Ek weet nie waar ons van hier sal oorbegin nie. My seun het pas sy tersiêre studies voltooi, en nou is al sy dokumente en sertifikate weg. Die klere wat ons aanhet, is al wat ons oor het,” het Phiri gesê.

Sy het gesê hulle het hulp nodig om materiaal te koop om hul huis te herbou.

Virginia Mhlanga, wat ’n sesjarige kind het, het gesê: “Ek het al meer as 20 jaar in ’n plakkershut gebly en het genoeg gehad. Ek het aansoek gedoen vir ’n HOP-huis, maar sedert 2009 het ek niks gehoor nie. Ons wil huise hê en nie hul valse beloftes en empatie nie. Hierdie mense ignoreer ons al te lank in Diepsloot.”

Werkers en gemeenskapslede help vloedslagoffers om rommel skoon te maak en hul besittings te sorteer.

“Ek het nie eens iewers heen om te gaan nie. My gesin is in die Vaal. Ek sal my bure moet vra vir slaapplek,” het sy gesê.

Sam Seale, wykskomiteeleier, het gesê die Stad Johannesburg se rampbestuurspan was op die terrein en het gesinne warm sop en brood gegee. Hy het gesê personeel van Sassa het ook besoek afgelê en belowe om hulle te help om weer vir ID’s aansoek te doen.

Seale het gesê baie van die vloedslagoffers was bedoel om na Riverside te verhuis, maar daar was baie vertragings.

“In 2021 het die burgemeester se kantoor voorgestel om hierdie mense na ’n ander gebied te skuif, maar hulle het weerstand gebied. Maar vandag het hulle aan die raadslid gesê hulle is bereid om na ’n ander ruimte in Diepsloot te trek. Vandag sal ons hulle help om hul strukture te skuif,” het Seale gesê.

Die Stad het nog nie op ons versoek om kommentaar gereageer nie. Die antwoord sal ingesluit word sodra dit ontvang is.

Die berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en met vergunning hier geplaas. Jy kan die oorspronklike berig lees deur hier te klik.