Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor Kuns en kultuur, sê die menseregtekommissie (MRK) is op onaanvaarbare wyse besig “om voete te sleep oor die geboelie van Afrikaanse studente aan die Universiteit van Stellenbosch (US).”

“Deur die situasie onbepaald te laat voortduur, word ʼn toksiese omgewing geskep waar wrywing tussen studente oor taal groot skade aan menseverhoudinge aanrig,” sê Denner.

Die VF Plus het in 2021 ʼn klag by die MRK ingedien oor soortgelyke boeliegedrag aan die US waar Afrikaanse studente in Stellenbosch en elders verbied is om selfs in hul koshuiskamers of in private gesprekke met mekaar Afrikaans te praat.

Die MRK het die saak ondersoek, en het ook, na ʼn uitgerekte proses in Oktober verlede jaar ʼn verslag met voorlopige bevindinge uitgebring.

Daar is egter ʼn streng embargo op die verslag geplaas wat die VF Plus eerbiedig. Die embargo was om alle belangegroepe die geleentheid te bied om hul kant van die saak te stel.

Dit is nou reeds twee jaar na die voorval en vyf maande nadat die verslag voltooi is en die VF Plus is van mening dat dit werklik ʼn billike geleentheid aan alle belangegroepe gebied het om kommentaar te lewer.

“Diegene wat dit tot nou toe nie gedoen het nie, is duidelik besig om die proses doelbewus uit te rek. Dit is onverantwoordelik van die MRK om dit toe te laat terwyl die situasie by US ongehinderd voortduur,” meen Denner.

Die VF Plus is van mening dat ʼn sterk bevinding en riglyne aan alle rolspelers oor die aangeleentheid kan help om die probleem tot ʼn groot mate op te los.

“Tot in hierdie stadium is dit duidelik dat die universiteit se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, nie bereid is om stappe te neem teen studente wat medestudente intimideer en dreig om nie Afrikaans te praat nie,” sê Denner.

Sekere studente het nou weer klagte by die MRK ingedien met die hulp van die organisasie Studenteplein.

Luidens Netwerk24 het André Gaum, ʼn kommissaris van die MRK, nou ook gesê; “enige verbod of poging tot verbod op ʼn amptelike taal in ʼn sosiale konteks is ongrondwetlik en moet onmiddellik stopgesit word”. 

Hy sê voorts die verbod om Afrikaans te praat, is ʼn “skending van die Afrikaanse studente se menseregte”.

“Dit is dus duidelik dat die MRK ʼn sterk mening oor die aangeleentheid het. Praat alleen help egter nie en die VF Plus doen ʼn beroep om die kommissie om sonder meer sy verslag uit te reik sodat duidelike riglyne gestel kan word,” meen Denner.

Dit is volgens die party onaanvaarbaar om ander se menseregte ongestraf te skend en dit is ewe onaanvaarbaar vir die MRK om niks daaraan te doen nie.