André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, sê hy sal dit onder geen omstandighede oorweeg om sy kontrak by die kragvoorsiener te verleng nie, selfs al word iemand bekwaam as minister van elektrisiteit aangestel.

Só het de Ruyter vertel in ’n onderhoud met die 702-radiostasie oor sy pos wat hy in Maart agterlaat.

“Dit is verby,” vertel hy. “Ek sal verkies om koppies tee te drink wat by die huis gemaak word deur mense wat ek vertrou” het hy gesê.

“Ten spyte daarvan dat ek my bes probeer het, is ek saam met my hardwerkende kollegas daarvan beskuldig dat ek probeer het om die regering te ondermyn, wat duidelik nie die geval was nie,” het de Ruyter gesê. “Die afwesigheid van politieke steun ná daardie beskuldigings was nogal teleurstellend.”

De Ruyter het bevestig dat Gwede Mantashe, minister van energie, se beskuldiging die laaste strooi was wat tot sy bedanking gelei het.

Sy ampstermyn van drie jaar was moeilik, en word gekenmerk deur ’n toename in beurtkrag, beskuldigings van hoogverraad (versamelnaam vir misdrywe teen die interne veiligheid van die staat) en selfs ’n poging tot vergiftiging.