’n Noodlottige messteekvoorval by die skool het gelei tot betogings wat “geregtigheid” vir Shawn Mphela eis.

Deur Kimberly Mutandiro (GroundUp)

  • Leerders betoog oor hoe die saak van die noodlottige messteekvoorval van Shawn Mphela van Geluksdal Sekondêr hanteer word.
  • Die saak is twee keer uitgestel.
  • Leerders het klasse ontwrig en Donderdag na die polisiestasie en landdroshof opgeruk.
  • Klippe is deur betogers gegooi en rubberkoeëls is deur die polisie afgevuur.

Twee lede van die Pan Africanist Student Organisation (PASO) is in polisie-aanhouding geneem ná ’n betoging waarin leerders Donderdag klippe na polisiebeamptes gegooi en buitebande buite die Tsakane-landdroshof en polisiestasie gebrand het. Die twee betogers is ouer as 18 jaar en word daarvan aangekla dat hulle openbare geweld aanhits.

Leerders het ook paaie versper en bande by kruisings gebrand. Hulle het gesê hulle eis “geregtigheid” vir Shawn Mphela, wat op 2 Februarie by Geluksdal Sekondêr noodlottig gesteek is. Hulle is ontevrede oor hoe die saak verloop. Dit is uitgestel na 15 Februarie, en toe weer uitgestel na 24 Maart.

Volgens die stasiebevelvoerder van die Tsakane-polisie, kolonel Goodall Khumbulani Mbatha, is 14 jeugdiges ook in hegtenis geneem, maar is vrygelaat.

Studente onder die PASO-vaandel het na skole rondom Tsakane en na Geluksdal Sekondêr opgeruk en klasse ontwrig. Teen 10:00 was byna 100 studente buite die landdroshof en nabygeleë polisiestasie in Indabastraat.

Leerders het ook verlede week Donderdag en Woensdag vandeesweek betoog. Maar hierdie Donderdag het dinge handuit geruk toe klippe na die polisie gegooi is en die polisie rubberkoeëls en traangas op die leerders afgevuur het.

“Hoekom stel hulle die saak uit?” het Gift Sethathi, PASO-lid van Mamelong Sekondêr, gevra.

“Die saak word nie ernstig opgeneem nie. Al wat ons wil hê, is geregtigheid vir Shawn. Hulle moenie hom [die verdagte] borgtog toestaan ​​nie,” het Mpho Maesela, ook ’n PASO-lid, gesê.

Studente het die skool daarvan beskuldig dat hulle teen swart leerders diskrimineer en geweld en gangsterisme duld. “Solank dinge nie reg is by daardie skool nie, sal ons aanhou om klasse te ontwrig. Dit is ons manier om dinge reg te maak aangesien owerhede ons in die steek laat,” het Sethathe gesê.

Ouers by die skool maak beswaar teen PASO wat klasse ontwrig. Vrydagoggend het ’n groep ouers ’n petisie onderteken wat PASO van intimidasie beskuldig, en dat hulle minderjariges met geweld uit die skool verwyder het sonder ouers se toestemming.

Volgens skoolbeheerraadslid Moses Ngwenya: “PASO ontwrig klasse sedert verlede week en iets moet gedoen word. Lede van die organisasie het ons leerders daarvan beskuldig dat hulle nie aktief by hul betogings betrokke is nie.”

Hy het gesê die departement van onderwys het belowe om sekuriteit op skoolpersele te hou, maar sekuriteitswagte is verwyder. Hy het gesê hulle wag ook vir die departement “om na ons terug te kom met betrekking tot ondersoeke na die steekvoorval en om dinge reg te maak”.

Bruin inwoners in Geluksdal sê hulle is nou bang om toegang tot dienste in Tsakane te kry.

Logan Fortuin, ’n ouer, het gesê: “Die rassisme-vuur word van iewers af aangesteek en dit ruk handuit. Ons gemeenskap is ’n oorheersende bruin gebied, maar ons leef in harmonie met alle rasse. Wat in die steekvoorval gebeur het, was moontlik ’n kriminele element. Ongelukkig word die raskwessie ook polities gedrewe. Geluksdal Sekondêr was een van die bestes, almal van ons het deur die skool gegaan. Ons moet saamkom en die gemeenskap harmoniseer.”

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê die departement is bewus en diep bekommerd oor die ontwrigting van klasse by verskeie skole rondom Tsakane en Geluksdal.

Hy het gesê: “Sekuriteit is opgeknap. Ons doen egter ’n beroep op ouers en leerderorganisasies om saam met die departement te werk vir die verbetering van die situasie in skole in die omgewing. Ontwrigting van skoolopleiding sal geen positiewe resultate oplewer nie.”

Die polisie het Vrydag buite die skool wag gehou.

Die berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en met vergunning hier geplaas. Jy kan die oorspronklike berig lees deur hier teklik.