“Cederberg Eerste (CE) het ontstaan toe prominente sakeleiers besluit het om nie langer van die kantlyn kritiek te lewer sonder om wesenlik betrokke te raak in die plaaslike regering se uitdagings nie,” vertel Jan Oosthuizen, sakeleier in Clanwilliam en visionêre leier van die Harvester Gemeente. 

“Ons raadslede is nie politikusse nie, bloot inwoners wat inwoners dien,” sê Oosthuizen. “Verder maak ons as koalisie van CE, die Demokratiese Alliansie (DA) en Vryheidsfront Plus geskiedenis om nou by ons tweede tussenverkiesing nie elkeen ’n kandidate te laat staan nie, maar eerder saam die beste kandidaat te ondersteun.” 

“Verder is CE uniek omdat ons ’n gemeenskapsorganisasie is, wat bloot Cederberg eerste stel. Politieke partye het ’n nasionale voetspoor, en verteenwoordig ’n ideologiese belangegroep, maar CE wil vir al Cederberg se inwoners beter dienste bied.” 

Dit sluit in skoon dorpe, skoon water en ’n skoon administrasie.  

Cederberg Eerste word ondersteun deur sakeleiers soos Martin Bergh, besturende direkteur van Rooibos Beperk, Ilse Lochner, voorsitter van die AHi Clanwilliam Sakekamer, André Mouton, ’n senior operasionele bestuurder by Orion vir bykans 25 jaar en die partyleier, dr Ruben Richards, wat ook die direkteur van Namakwaland Sitrus is.

Foto: Dr Reuben Richards / Cederberg Eerste (Facebook)

“Natuurlik is ons bondgenote se rol ook belangrik, maar CE se fokus is om al die rolspelers in ’n gemeenskap saam te trek om Cederberg se uitdagings prakties op te los,” meen Oosthuizen. 

Volgens Oosthuizen is die ondersteuning van die AHi Clanwilliam Sakekamer belangrik, aangesien die gemeenskap help om die streek te herbou.

Op Woensdag 15 Februarie 2023 het Cederberg Eerste ’n onomwonde mandaat van die kiesers van wyk 6-Cederberg ontvang deur ’n oorwinning by die stembus. 

Die uitslae is oorweldigend met CE wat 47,4% van die stemme gekry het, die ANC met 32,1%, die Patriotic Alliance met 18,9%, en die EFF 1,1%. Wyk 6 sluit in Wupperthal, Paleisheuwel en Algeria.

André Mouton van Cederberg Eerste (CE) was die kandidaat wat deur die koalisie voortgesit is.

“’n Mens sou kon aflei dat “die mense/kiesers gepraat het”,” vertel dr Richards. “Ons is verheug en diep dankbaar teenoor ons kiesers wat ’n duidelike mandaat aan ons toevertrou het om ons doelwitte te bereik.”

“Ons het uit bittere ervaring geleer dat om ’n ou en vuil huis in ’n landelike boerderygebied te probeer skoonmaak, die risiko inhou dat gevaarlike slange in stowwerige hoeke skuil. En ongetwyfeld, soos duidelik was vir almal om te sien, is ons ’n paar keer deur hierdie giftige slange gebyt. Ons benader nou die huisskoonmaakoefening met ’n bietjie ekstra versigtigheid, maar met dieselfde vasberadenheid om die gemors op te ruim wat veroorsaak is deur diegene wat ’n paar maande gelede krag van ons afgeruk het. Wie weet watter ander gemors hulle veroorsaak het terwyl hulle aan bewind was. Kom ons wag en kyk wat ons ontdek. Ons is al ’n paar keer vantevore ontnugter,” sê dr Richards verder.

“Die kritieke kwessies wat ons in die gesig staar, is ongetwyfeld watersekerheid (voorsiening en suiwerheid), werkskepping vir ons plattelandse jeug en selfs Eskom.”