Solidariteit het vandag tydens ʼn mediakonferensie hofstukke in verband met sy litigasie teen die onlangse verklaring van ʼn ramptoestand oor die kragkrisis beteken. 

In Solidariteit se aansoek voer hy onder meer aan dat die kragkrisis nie aan die definisie van ʼn ramp ingevolge die betrokke wetgewing voldoen nie; dat bestaande wetgewing voldoende is om die krisis te kan bestuur; dat die afkondiging van ʼn ramptoestand geen duidelike doel dien nie en dat daar onbehoorlike politieke inmenging was by die verklaring van die ramp.

“Die regering is self die oorsaak van die elektrisiteitsramp en kan homself nie as ramp verklaar en dan buitengewone magte verkry om die ramp op te los nie. Die rampwetgewing is nie bedoel vir regeringsmislukkings nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Ons geheue is nie kort nie. Ons kan die magsvergrype tydens die Covid-19-ramptoestand, en hoe rampgeld geplunder is, onthou. ʼn Ramptoestand vir die elektrisiteitskrisis is ʼn ramp.”

Volgens Solidariteit is ʼn ramptoestand ʼn staat van uitsondering en ʼn proses wat teen die normale demokrasie indruis. Daar moet dus uiters versigtig daarmee omgegaan word. ʼn Ramptoestand is bedoel net as ʼn tydelike ingryp en moet net gebruik word indien geen ander instrument beskikbaar is om die situasie te hanteer nie. Dit beteken as ʼn ander regsinstrument vir die uitsonderingsituasie beskikbaar is, moet dit gebruik word. 

Solidariteit voel voorts baie sterk daaroor dat dit ingrypende stappe gaan verg om die elektrisiteitskrisis te hanteer. Die probleem lê egter juis daarin dat die regering tot dusver nie die politieke wil gehad het om die regte dinge te doen nie.

“Al die maatreëls wat in pres. Ramaphosa se staatsrede aangekondig is, kan deur ander statutêre instrumente geïmplementeer word. Indien ander instrumente bestaan, is rampwetgewing nie van toepassing nie,” verduidelik Hermann.

“As ons toelaat dat hierdie ramptoestand voortgaan, word ʼn gevaarlike presedent geskep. Dit kan beteken dat Suid-Afrika ʼn toekoms van ʼn rampdemokrasie tegemoetgaan. Regeringsmislukkings soos om nie water- en rioleringsdienste te lewer nie, mislukkende munisipaliteite, die inploffing van infrastruktuur asook ander probleme kan dan alles hanteer word deur normale demokratiese prosesse by wyse van rampverklarings te omseil. Dit was nooit die bedoeling van rampbestuurswetgewing nie,” stel Hermann dit.
Solidariteit wys verder daarop dat die regering, benewens sy wanbestuur by Eskom, ook ʼn besondere swak geskiedenis het wat rampbestuur betref. 

“Tydens die Covid-19-pandemie het die ramptoestand tot absurde vergrype gelei soos die oplegging van boetes as ʼn sypaadjie geskoffel is, die polisie wat mense soos paddas laat rondspring het, die verbod op die verkoop van plakkies en warm kos, die sluiting van strande, ʼn sigaretverbod en talle ander vergrype. Meer as 411 000 Suid-Afrikaners is in dié tyd gearresteer omdat hulle Covid-19-ramptoestandreëls verbreek het,” sê Hermann. 

“Benewens dié absurditeite het Covid-19-noodfondse ʼn bron van plundering geword. Tientalle maatskappye is met Covid-19-ramptoestandverwante bedrog verbind. Miljarde rande se onregmatige transaksies is aangegaan vir die aankoop van beskermende klere. Die ouditeur-generaal het ook ʼn verdoemende verslag uitgereik oor die wanaanwending van fondse en swak bestuur van die Kwazulu-Natalse vloedramp verlede jaar.” 

Solidariteit voer aan dat soos die geskiedenis al bewys het, rampfondse gedurende die elektrisiteitskrisis sonder twyfel weer geplunder gaan word. Net ʼn naïewe persoon sal dink dit gaan nie gebeur nie. 

“ʼn Ramptoestand is per definisie ʼn instrument om regte tydens ʼn ramptydperk op te hef. Ongekende magte word aan die regering toegeken en burgers word uitgelewer aan die regering se hantering daarvan. Dit sal irrasioneel, roekeloos en onnodig wees om in hierdie geval ramptoestandmagte aan die regering te gee,” sluit Hermann af.

Verklaring deur Solidariteit uitgereik.