“Rassekaart al wat ANC kan red in 2024” – VF Plus
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het vandag in die Staatsrede-debat aangevoer dat die ANC die rassekaart ywerig sal gebruik om hom te probeer red in volgende jaar se verkiesing.
“Dit is die enigste troef wat die regering nog het. Al sy ander kaarte getuig van mislukking,” sê dr. Groenewald. “Hierdie afleiding kan gemaak word uit die feit dat pres. Cyril Ramaphosa met die ANC se 8 Januarie-verklaring misbruik gemaak het van ’n rassevoorval by Maselspoort en laat blyk het dat net wittes rassiste kan wees.”
Volgens dr. Groenewald is daar egter baie voorbeelde, soos ’n hofsaak waarin twee swart polisielede skuldig bevind is aan rassisme teenoor ’n vrouekolonel en regeringsbeleid, wat volgens hom wys dat rassisme teen wittes en minderhede ʼn werklikheid is.
“Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) vergestalt institusionele rassisme,” meen dr. Groenewald.
“Die moontlikheid dat 500 wit werknemers ingevolge Eskom se gelyke indiensnemingsplan afgedank gaan word, getuig hiervan. Die president het ook gesê daar is nie plek vir rassisme in Suid-Afrika nie. Daarmee stem die VF Plus saam.”
Daar kan nie eenheid in die land wees te midde van rassisme en dubbele standaarde daaroor nie. Die VF Plus doen daarom ’n beroep op die regering om die rassekaart uit te los.
“Die president moet erken dat daar wel swart op wit rassisme is,” sê dr. Groenewald. “Die krisis rondom Eskom en die nuwe pos van minister van elektrisiteit herinner aan die vraag oor hoeveel mense nodig is om ’n gloeilamp in te draai.”
Daar is reeds ’n bestaande minister wat hierdie portefeulje behartig.
“Die feit dat die president gesê het die nuwe minister sal eintlik net ’n projekbestuurder wees, laat vrae ontstaan oor die minderwaardigheid waarmee die minister in dié pos bejeën sal word.”
Oor die president se beroep op Suid-Afrikaners om saam verantwoordelikheid te neem vir die Eskom-krisis, wil die VF Plus dit duidelik stel dat hy nie bereid is om enige verantwoordelikheid hiervoor te neem nie.
“Die krisis is die ANC se eie maaksel en deur te volhard met alles wat die krisis veroorsaak het, soos SEB, wys dat die regering nie werklik bereid is om die probleem op te los nie.”
Die VF Plus het ’n Tienpuntplan wat oplossings bied, maar dit is te bevraagteken of die president dit eens sou lees indien dit aan hom voorgelê sou word.
In 2015 is pres. Ramaphosa, destyds as adjunkpresident, in bevel geplaas van die sogenaamde Eskom-oorlogkamer om die probleem op te los. Daarvan het niks gekom nie.
“In die jare daarna het ANC-ministers herhaaldelik beloof dat die kragkrisis binnekort iets van die verlede sou wees. Dit het net erger geraak,” sê dr. Groenewald. “Dit is duidelik dat die regering nie in staat is om die probleem op te los nie en boonop totaal uit voeling is met die gevoel van die mense op straat oor die aangeleentheid.”
’n Opname wat die VF Plus gedoen het oor hoe die publiek die probleme met kragtekorte ervaar, wys duidelik hoe kritiek die situasie is.
Dit kos gewone ondernemings tot miljoene rande per jaar net om te oorleef.
“Soos met die kragkrisis, is misdaad ook buite beheer sonder dat dit lyk of daar enige plan of oplossing van regeringskant is,” meen dr. Groenewald. “Deur ’n eenheid soos die Skerpioene te laat herleef, kan ’n goeie vertrekpunt wees om die stryd teen misdaad te hervat.”
“Nog ’n probleem in die land is die voorgenome Onteieningswet wat niks anders is nie as om onteienings sonder vergoeding moontlik te maak.”
Die VF Plus doen ’n beroep op die president om dit eers na die Grondwethof te verwys voordat hy dit finaal afteken.
“Eindelik maak al die probleme in Suid-Afrika dit duidelik dat daar geen oplossing sal wees solank as wat die ANC regeer nie,” sê dr. Groenewald. “Diegene wat die oorsaak van ’n probleem is, kan nie ook die persone wees wat dit oplos nie.”