“Vlootoefeninge tussen SA en Rusland kan ons land aandadig aan oorlogsmisdade maak” – DA
Die regering se “onsinnige besluit” om van 17 tot 27 Februarie aan die kus van KwaZulu-Natal Oefening Mosi II saam met Rusland en China aan te bied, val saam met die herdenking van Rusland se inval in die Oekraïne op 24 Februarie 2022.
“Ten spyte van wye veroordeling deur kenners, diplomate, aktiviste en die DA, gaan Suid-Afrika voort met sy beplande vlootoefeninge met Rusland en China. Deur aan hierdie oefening deel te neem, laat vaar Suid-Afrika sy amptelik verklaarde neutrale standpunt oor die konflik tussen Rusland en die Oekraïne,” sê Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging.
“Berigte van die Russiese nuusagentskap TASS dui daarop dat Rusland sy Tsirkon (Zircon) hipersoniese missiel tydens Oefening Mosi II sal oefen en toets en ons aandadig aan hul oorlogsmisdade sal maak. Dit is duidelik wat die doel van die ‘Admiral Gorshkov’ oorlogskip is met sy vermoë om die hipersoniese Tsirkon-missiel te dra en te lanseer,” voeg Marais by.
Rusland se duidelike doelwit volgens die DA met die Oefening Mosi II is om Suid-Afrika te misbruik vir hul propaganda teen die weste.
“Ten spyte daarvan dat die SANW dit nou ontken, lyk dit of SA bereid is om die rol van “die nuttige idioot” te speel. Dit is ’n sinnelose en baie onverantwoordelike optrede deur die ANC-regering om hul Russiese meesters tevrede te stel,” voeg Marais by.
“Gegewe ons baie beperkte begroting en vlootvermoëns om tans aan ’n vlootoefening deel te neem, het ons duidelik min of geen voordele om van Oefening Mosi II weg te neem nie, veral uit die teenwoordigheid en moontlike lansering van die Tsirkon-hipersoniese missiel. Dit sal die herstel van ons vloottoerusting verder terugstel met die fondse wat vermors word, aangesien daar ander hoër befondsingsprioriteite vir die vloot is,” sê Marais.
“Gegewe die verontwaardiging deur Westerse diplomate, sal hierdie simpel houding deur die ANC ons verder vervreem van ons groot handelsvennote en beleggers en ons dalk oor die rand stoot tot ’n gryslys en die verlies van groot handelstoegewings ingevolge die Agoa-wetgewing.
“Die DA sal voortgaan om die ANC-regering verantwoordelik te hou vir sy irrasionele gedrag binne die verdediging en militêre sfeer, ten koste van die integriteit van ons land en die veiligheid van ons mense.”