Solidariteit gaan op Dinsdag, 14 Februarie 2023 hofstukke op die regering beteken rakende die irrasionele besluit om ʼn ramptoestand oor die kragkrisis te verklaar. Die rasionaliteit, grondwetlikheid en dus die wettigheid van hierdie ramptoestand moet op die strengste wyse moontlik getoets word. 

Solidariteit voer aan dat, buiten die bevraagtekenbare wettigheid van die ramptoestand, die regering se algehele onbevoegdheid om die kragkrisis oor die afgelope 17 jaar op te los, nie te midde van ʼn ramptoestand sal verdwyn nie. Die teendeel geld eerder. 

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), verduidelik: “Om met verdere politieke inmengery die weg te probeer baan uit ʼn krisis wat onweerlegbaar voor dieselfde politici se deure gelê kan word, is nie net irrasioneel en onverantwoordelik nie, maar ook onwettig.”