Die nasionale ramptoestandverklaring hou sowel ernstige gevare as geleenthede in om elektrisiteitsvoorsiening te denasionaliseer en desentraliseer. 

Dít is die mening van die organisasie Sakeliga.

“Die ernstige gevare lê in die bykomende diskresie wat die regering bekom om regulasies en direktiewe met wydlopende gevolge vir die hele samelewing uit te vaardig. Met meer as twee jaar se voorheen ondenkbare magsvergrype, korrupsie en ekonomiese vernietiging ‘n baie onlangse herinnering, het ondernemings en die publiek tereg geen vertroue in die oordeel van die einste regering wat die Covid-19 nasionale ramptoestand verklaar en bestuur het nie en wat boonop die oorsaak is van die energiekrisis wat dit nou na bewering wil oplos,” lui ‘n verklaring deur die organisasie.

Sakeliga het behoorlike aandag en oorweging aan die moontlikheid van regsaksie teen die nasionale ramptoestand geskenk.

Gegewe Sakeliga se opsies en die litigasie wat vandeesweek aangekondig is deur ander organisasies, gaan Sakeliga as volg voort: 

  1. Sakeliga het sy prokureurs instruksie gegee om sy hangende hofsaak, om dele van die Wet op Rampbestuur ongrondwetlik te laat verklaar, te versnel. Die saak is oorspronklik in Februarie 2022 gebring om verdere hernuwing van die Covid-19 nasionale ramptoestand te voorkom, maar Sakeliga het voorsien dat die regering in die versoeking sal kom om toekomstige ramptoestandverklarings te gebruik om sy eie mislukkings te bestuur of standaard bestedingsoorsig te omseil.
  2. Sakeliga sal alle komende regulasies en direktiewe wat ingevolge die nasionale ramptoestand uitgevaardig word oorweeg, met voorbehoud van sy regte om regsaksie te bring teen enige aspek van die rampklassifikasie, die nasionale ramptoestandverklaring en enige regulasies of direktiewe daaruit voortspruitend. Waar regulasies of direktiewe inbraak maak op die vermoë van besighede en verbruikers om vryelik alle vorme van energie te verhandel, of op ander wyses inmeng met eiendom en handelsvryheid, sal Sakeliga dit teenstaan, insluitende met litigasie waar toepaslik.  

“Terselfdertyd vereis die benarde elektrisiteitsituasie dat ondernemings alle hefbome behoort te benut, insluitende die staat se erkenning van sy eie mislukkings, ten einde verdere desentralisering en denasionalisering van elektrisiteitsverskaffing te bevorder. 

“Van kernbelang, is dat president Ramaphosa se aankondiging van ‘n ramptoestand oor elektrisiteit neerkom op ‘n amptelike regeringsverklaring dat die publiek ‘n ramp beleef waarvan die staat self die oorsaak is. Die energiekrisis verteenwoordig ‘n werklike, mensgemaakte probleem met ‘n duidelike oorsprong: die staat se elektrisiteitsmonopolie (Eskom) en die staat se energiebeleid. 

“Die bestaan van ‘n ramp wat die samelewing op so ‘n ernstige en omvattende skaal bedreig regverdig buitengewone stappe deur sakelui en ander lede van die publiek om die ramp te verlig en die oorsprong daarvan aan te pak. 

“In teenstelling met Ramaphosa se oënskynlike geloof in gesentraliseerde energiebestuur deur die staat, soos blyk uit sy rede Donderdagaand, lê die oplossing van die energiekrisis in groter desentralisering in die hande van entrepreneurs, ingenieurs, beleggers en verbruikers. Ondernemings, burgerlike organisasies en die publiek behoort die regering se amptelike verklaring oor die staat se energiemislukking ten volle te benut om hul eie, nie-staatlike noodmaatreëls te regverdig. 

“Te midde van voortgesette staatsmislukking, behoort besighede, verbruikers en gekoördineerde gemeenskappe op plaaslike vlak maniere te soek om noodmaatreëls te implementeer wat wissel van eie elektrisiteitsopwekking tot die onafhanklike vestiging of instandhouding van transmissie- en verspreidingsinfrastruktuur. Hierdie nie-staatsinstansies doen reeds byna 15 jaar buitengewone stappe en behoort nou des te meer stoutmoedig te strewe na vryelik beskikbare en bekostigbare energie wat gedesentraliseerd en staatsbestand is,” lui die verklaring verder.