PAS BEKEND | Vyf mense dood ná ’n massaskietery in KZN
Volgens kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, is vyf mense dood nadat drie gewapende mans vanmiddag twee voertuigwerkswinkels (wat naby mekaar geleë is) in Mariannhill in KwaZulu-Natal bestorm het.
“Die polisie is op soek na minstens drie gewapende mans wat Maandagmiddag vyf mense doodgeskiet en die ander een gewond het by twee afsonderlike misdaadtonele in Marrianhill.
“Inligting tot die polisie se beskikking in hierdie stadium dui daarop dat die verdagtes by ’n voertuigwerkswinkel ingestorm en die eienaar en twee ander mense geskiet het. Die eienaar en een ander persoon is op die toneel dood verklaar, terwyl die derde slagoffer met skietwonde hospitaal toe gehaas is.
“Dieselfde verdagtes het glo na ’n ander voertuigwerkswinkel net twee strate verder gegaan en die eienaar en twee ander mense wat by die werkswinkel gewerk het, doodgeskiet. Drie van die oorledenes is in hul 50’s en die ander twee is na bewering in hul laat 30’s.
“Alhoewel die motief van die moorde nog nie vasgestel is nie, is niks tydens die skietery as beroof of gesteel aangemeld nie.”