Solly Msimanga, die DA-leier in Gauteng, het bevestig dat Randall Williams as Uitvoerende Burgemeester van Tshwane bedank het. Sy bedanking tree vanaf 1 Maart in werking.

Peter Sutton, burgemeesterskomiteelid vir finansies in die Tshwane-metro, sal nou vanaf 1 Maart as die uitvoerende burgemeester intree.

Williams sê hy bedank om die stabiliteit van die koalisie in Tshwane te verseker. Hy sal vanaf middernag uittree as burgemeester van die Stad Tshwane.

“Ons wil graag ons dank en waardering uitspreek vir die werk wat Williams tydens sy ampstermyn gedoen het,” sê Msimanga.

“Williams het, nadat hy te midde van die Covid-pandemie in 2020 tot Uitvoerende Burgemeester van Tshwane verkies is en in die nasleep van ANC-wanbestuur wat die stad met ’n tekort van R4 miljard gelaat het, begin om die stad se finansies te stabiliseer. Dit het hy gedoen as die hoof van ’n DA-minderheidsregering tot en met die plaaslike regeringsverkiesing in 2021.”

Die DA-federale leier John Steenhuisen het burgemeester Williams bedank vir die toewyding om die vlakke van dienslewering vir al Tshwane se inwoners te verbeter. “Die uitdagings het soms kommerwekkend gelyk, maar hy het nooit sy hande van die wiel afgehaal nie. Dit weerspieël die DA-belofte aan diegene wat in metro’s en munisipaliteite woon waar die DA regeer”.

Msimanga het ook burgemeester Williams geloof vir sy werk om die behoeftes van die inwoners eerste te stel in ‘n dikwels onstuimige politieke omgewing. “Die feit dat hy bereid is om af te staan ​​om die stabiliteit in die metro te verseker, spreek boekdele van sy toewyding aan die inwoners sowel as die politieke proses.”

Die DA sien daarna uit om Randall Williams te verwelkom in watter rol ook al op hom wag binne die DA, waar sy ervaring en vaardighede ‘n groot aanwins sal wees.