20 mense is dood en 68 beseer in ’n trompop-botsing tussen ’n toerbus en ’n kontanttransitowa op die N1-snelweg in die Louis Trichardt-omgewing van Limpopo vanaand. Meeste van die oorledenes was onder die wrak van die bus vasgekeer, en die aantal sterftes kan verder toeneem aangesien die toneel nog ondersoek word.

Die bus het na die botsing van die snelwegbrug af in die rivier gerol en op sy linkersy beland.

ER24-paramedici was Maandag om 20:05 op die toneel saam met die brandweer, provinsiale EMS en talle ander reddingsdienste. Die toneel was nog aktief ten tyde van hierdie berig, met verskeie passasiers wat moontlik nog nie gevind is nie. 

Een beseerde, van die 69 passasiers wat bevestig is dat hulle vir verskeie beserings hospitaal toe vervoer is, is intussen dood. 

Foto: ER24

Drie mense is dood langs die pad gevind en sestien langs die rivier – almal is met hul aankoms dood verklaar. Die meeste van die sterftes onder by die rivier was onder die bus vasgekeer.

Die presiese besonderhede rondom die botsing is tans onbekend, maar die SAPD is op die toneel vir ondersoeke. Daar is tans swaar reën in die gebied.