Babadogtertjie sterf én 11 ander beseer toe taxi rol
’n 3-jarige babadogtertjie is dood en elf ander het ernstige beserings opgedoen toe ’n taxi Maandagmiddag op die R71-pad in die Houtbosdorp-omgewing van Limpopo omgeslaan het.
ER24-paramedici het Maandag om 15:15 saam met die provinsiale nooddienste, verkeerspolisie, brandweer- en reddingsdienste, Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en nog ’n private nooddiens op die toneel aangekom.
Tien volwassenes, sowel as twee klein kinders is buite die voertuig gevind.
Die 3-jarige meisie het ongelukkig noodlottige beserings opgedoen en is deur ER24 op die toneel dood verklaar.
Al elf die oorblywende beseerdes is vir ernstige beserings behandel en deur die provinsiale ambulanse na ’n nabygeleë hospitaal vir verdere mediese sorg vervoer.
Die SAPD ondersoek die gebeure wat tot die voorval gelei het.